Dinge hardloop al vinniger na die einde van die jaar toe.
Daar is nog so baie wat gedoen moet word! En die einde
van die jaar kom met nog meer dinge soos afsluitings
en werk wat moet klaarkom voor die vakansietyd.
Kinders kom praat by ouers hoe hulle uitsien na die see
of plaasvakansie. Of die bos. Hulle kan nie wag nie.
Die vooruitsig is so groot dat hulle skoon verby die
eksamens kyk wat nog voorlê. Ons hoor al die branders
breek, of die roep van die visarend in die bosveld.
Met verwagting word vooruitgekyk. Die tyd word
as’t ware om-gewens.
Die vraag wat ‘n mens laat dink is of ons ook só uitsien
na die koms van Jesus?! Is daar ook die opgewondenheid
by ons om alles te los en by die Here te wees.
Eerlik moet ons wees. Ons wag nie met dieselfde
opgewondenheid op die koms van Jesus, as wat baie
aardse dinge ons opgewonde maak nie. Soos ‘n vakansie.
Wanneer ons oor die koms van Jesus praat, sal ons sê
ons sien uit. Maat ons het maar min van ‘n lewende
verwagting dat Jesus komende is... enige tyd!
Sien ons regtig daarna uit?
Die mense in Tessalonika kon nie wag nie. Paulus skryf
in 1 Tess. 1:10 hieroor: “Die mense vertel ook dat julle
baie uitsien na die dag dat Jesus uit die hemel na ons
toe sal terugkeer.”
Dalk ontbreek die opgewondenheid by ons omdat ons nie
van verrassings hou nie. Ons wil vashou aan die bekende.
Ons is heel tevrede hier op aarde en geniet dit tussen ons
geliefdes en bekendes. Hiermee is opsigself niks mee
verkeerd nie. God gee dit as gawe.
Tog moet ons heeltyd besef dat ons maar net tydelik hier
op aarde is. Soos ‘n seisoen. Met begin en einde.
Al is ons wortels diep, daar kom ‘n tyd dat ons verplant
gaan word.
Sal jy opgewonde wees om jou Verlosser te ontmoet?
Kom ons maak weer seker waar ons koppe en ons hart is.
Ons bly maar in ‘n tentwoning. Die penne gaan uitgetrek
word. Hier waar ons nou is, kies ons vir God, of teen God.
En hier leef ons vir Hom, of nie.
Die werklike seisoen begin eers wanneer jy vir die Here
kies en vir Hom leef.
Dan sal jy by Hom wees, nou en vir altyd!
Leef nou vir Hom! Sien uit na sy koms!
Ernest