Dikwels loop sogenaamde Gods-manne met
‘n boodskap rond wat heeltemal van die waarheid
gestroop is. En nog meer ontstellend is dat so baie
mense agter hulle aanloop.
Die wederkoms word dag en datum, uur en sekonde
voorspel. Weens bepaalde simbole op ‘n geldstuk word
elke gelowige wat dit gebruik in die bose ingedompel.
Asof die Heilige Gees nie in ons woon nie. Asof enige
bose gees uit ‘n bos op ons kan spring en ons het geen
verweer nie. Soms is dit lagwekkend.
Maar ten beste is dit uiters ontstellend. Dit is belaglik
hoe ver baie dinge van die waarheid af lê,
en as evangelie gepredik word. En mense wat op vaste
kos moet wees val terug op melkkos. Dinge word gepredik
wat só ver is van die middelpunt van God se boodskap.
God het nie ‘n vertoning nodig om mense na Hom te trek nie.
God hoef nie vir verkeerde redes die opskrifte van koerante
te haal nie. God het klaar gedoen wat gedoen moes word
vir die mens. Maar dit is asof ons dink dit is nie genoeg nie.
Hoekom moet ons altyd ‘n stertjie aanlas om die boodskap
meer “verstaanbaar” te maak, of om by te voeg wat “nodig”
is vir redding.
Die boodskap is so eenvoudig as wat Paulus dit skryf in
1 Tess. 1:10: “...Jesus is God se eie Seun. God self het Hom
uit die dood laat opstaan. Net Jesus kan ons red van die
oordeel van God op die laaste dag.”
Dit is nie nodig om gif-kannetjies uit te haal om demone
uit te dryf nie. Groot kerkgeboue is ook nie nodig nie.
Klankstelsels, skerms en ligte wat flits is ook nie nodig nie.
Net die eenvoudige waarheid: God het Jesus, sy eie Seun,
uit die dood opgewek met een doel: Sodat jy nie self hoef
te betaal vir jou sonde nie. Want jy kan nie. Jesus kom dra
die straf namens jou. Deur dit in geloof te aanvaar is jy nou
God se kind!
God doen dit alles deur die Gees wat in jou werk.
Niks kan meer teen jou naam staan nie. God kyk na jou,
en sien Jesus! Hy het in jou plek alles gedoen. Jy is regverdig
verklaar in Jesus. Jy staan onder sy bloed van versoening.
Hiervoor hoef jy nie deel te wees van ‘n bepaalde kerk nie.
Of ‘n bepaalde gemeente waar daar “vuurwerke” is nie.
Geboue, klank, flitsborde en spesifieke “gawes”,
wat jy “moet” hê, gaan dit nie vir jou doen nie.
Net Jesus! Punt. So eenvoudig is die evangelie. Die waarheid.
Is hierdie boodskap te eenvoudig?
En nou moet die kerk die pap dikker aanmaak sodat die
mense kan glo?
‘n Treffende boekie wat die waarheid van die evangelie
kort en kragtig en eenvoudig stel, is vir ‘n goedkoop prys
aangebied. Juis sodat soveel as moontlik mense die waarheid
kan ontdek. Byna geen boekies is verkoop nie. ‘n Uitgewer
het aanbeveel dat die skrywer die boekie aansienlik duurder
maak. Baie duurder. Binne ‘n kort tydjie was al die boekies
uitverkoop. Mense koppel die waarde van iets aan die koste
daarvan.
Is die koste van God se Seun se lewe dan nie duur genoeg
vir ons nie?
Blykbaar nie. Want allerhande dinge word by die evangelie
van Jesus Christus bygevoeg...
Moenie dwaas wees nie. Moenie agter dwase aanloop nie.
Lees weer vers 10. Dit is oorgenoeg! Dit is wat God doen!
Kan ons meer doen? Nee. God doen alles!
Ernest