Dikwels gaan ons deur moeilike tye in ons lewe.
Ons worstel met vrae, situasies of mense oor baie dinge.
Dikwels is dit ook die mense wat die naaste aan ons is.
Ons kan selfs keelvol raak vir aanslag op aanslag teen ons.
Iemand het hieroor gesê:
“Welkom in die kring van die Christene”.
Wanneer jy jou verbind om voluit ‘n lewe saam met die
Here te lewe, kan jy maar seker weet dit is nie net lekker
seil op plat water nie. Storms gaan jou teister omdat jy
staan vir Wie jy staan!
Neem maar die lewe van Paulus wat op die oog af meer
op die grondpad was as op die teerpad. Paulus het groot
werk vir die Here gedoen. Tot op hede was hy een van die
mense wat die evangelie die meeste deur die wêreld
versprei het, en ook een van die wat die swaarste daarvoor
gekry het. In 1 Tess. 2:2 skryf hy onder andere:
“...Ongelowige mense het ons daar verskriklik sleggesê en
mishandel, maar dit het ons gladnie ondergekry nie.
God het ons geloof sterk gemaak. Daarom was ons nie bang
om na julle toe te gaan nie. Tog was dit nie so maklik om die
goeie nuus in julle stad te preek nie. Die mense het ons
baie swaar laat leef.”
Wanneer jy op die grondpad is moet jy nie dink God is nou
verder van jou as wanneer jy op die teerpad is nie. God is nie
nader op die platwater, en verder in die brekende golwe van
die storms nie. Iemand het gesê dat jy mooi moet dink
wanneer jy net op die plat water is en nooit storms beleef nie,
of jy wel opstaan vir die Here wanneer jy moet, soos Paulus.
Dalk gaan dit so “goed” omdat jy geen bekommernis vir satan
is nie. Ons kan by Paulus leer om bo-oor die omstandighede te
kyk waarin ons is. Glo in die boodskap wat jy getuig en dra dit
met jou lewe. Glo dat God jou geroep het om Hom te
verteenwoordig daar waar jy lewe. Hou vas aan God, al is die
omstandighede waarin jy is hoe moeilik. Al is alles teen jou,
beur vorentoe vir die Here. Doen die moontlike, en los die
onmoontlike vir God. Hy sal dit doen wat sy wil is!
Bid tot God vir wysheid en deursettingsvermoë.
Bid dat jy die pad sal sien wat Hy wys. Vra Hom om jou geloof
sterk te maak in jou omstandighede. Vra Hom om jou te help
om Hom te eer daarin. Ook as jy later terugkyk en sien hoe
God jou gedra en laat groei het om meer en meer die
beeld van Jesus te vertoon.
Ernest