Paulus begin 1 Tess.1 met die klem op gebed.
Hulle het baie swaar gekry waar hulle die eerste
keer die boodskap van Jesus Christus moes bring.
Dit was baie moeilik, maar hulle het tot God gebid
om hulle te help. En God hét hulle gehelp deur hulle
geloof sterk te maak! In vers 2 sê Paulus dat niks
hulle kon onderkry nie, want
“...God het ons geloof sterk gemaak.”
Let op: God se hulp was om hulle geloof te versterk,
en nie om hulle omstandighede weg te neem nie.

Ons bid meestal dat God ons omstandighede moet
wegneem of moet verbeter. Paulus vra nie hiervoor nie.
Sy insig en wysheid neem hom op ‘n ander pad.
Hy moet die evangelie verkondig, en dit sal moeilik bly,
daar waar hy dit moet bring. Hy weet God sal dit moontlik
maak, al is dit moeilik. Dit gaan nie vir Paulus oor sy eie
gerief nie, maar oor sy roeping vir God.
Ons stel dikwels ons gerief voor dit wat ons vir die Here
moet doen, omdat dit vir ons moeilik is.

Die ondergrondse kerk in China bid nie dat die Here die juk
van vervolging moet wegneem nie, maar dat Hy hulle sterk
genoeg moet maak om dit te dra, al gebeur wát ookal.
Daarom groei die ondergrondse kerk soos ‘n veldbrand,
want die gelowiges sal die juk dra, al gebeur wát ookal!

Dit is ook wat hier met Paulus hulle gebeur.
En wat is die gevolg daarvan? Hulle is nie meer bang nie!
In vers 2 sê hy: “Daarom was ons nie bang om na hulle
toe te gaan nie.” Die probleem is nie weg nie, maar hulle
weet die probleem sal hulle nie oorrompel nie.
Hulle is in God se hand.

Ons beland ook in moeilike omstandighede.
Dit is in sulke tye wat ons intens tot God moet bid.
Vra dat God jou geloof sterk maak om te dra wat jy
vir Hom moet dra! Dit is moontlik juis dit wat jy dán vir
Hom moet doen. Dink mooi voor jy bid dat God dit net
moet wegneem ter wille van jouself.
Vra van God wysheid en insig. Vra Hom om jou daarin
te laat groei ter wille van Hom en sy koninkryk.
Dan sal jy nie bang wees om elke dag op te staan en
die lewe in die oog te kyk nie, en voluit te leef nie.
Al gaan dit nie maklik nie, weet dat God saam met jou
in dit is! Paulus hulle se omstandighede het niks makliker
geword nie.
Maar hulle geloof soveel sterker!
God bedoel dit ook vir jou.

Ernest