In Psalm 84 lees ons: “Hoe lief het ek U woning,
Here, Almagtige...”
Ons lees ook: “Ek versmag van verlange na die
tempel van die Here; met alles wat ek is,
wil ek jubel oor die lewende God.”

Hoe maak hierdie Psalm se woorde sin?
Hierdie diep hunkering na God waarvan hierdie
Psalm praat, mag onbekende taal wees vir die
moderne mens.
Maar Psalm 84 is nie bedoel vir super-gelowiges
wat hulleself afsonder “naby” die Here nie.
Dit is vir ons bedoel, waar ons elke dag lewe.

Ons moet die basiese uitgangspunt van hierdie
Psalm snap. Dit staan op die belangrike beginsel:
God is alles! Sy nabyheid, sy liefde, sy aanraking,
sy stem, alles van Hom...is wat saak maak!

Psalm 84 druk die diepste verlange na die Here
uit in tempel-taal. Die mense van die Ou Testament
het die tempel gesien as die simbool van God se
teenwoordigheid by hulle.
Hierdie Psalm gaan egter oor die diep verlange na die
lewende God se teenwoordigheid by jou.
Dat jy in sy teenwoordigheid kan wees en leef!
Dan maak die woorde van die Psalm skielik sin.
God sit nie vas in die tempel nie.
Psalm 84 sê eintlik dat God nie net belangrik is nie.
Hy is alles!

Uit die Nuwe Testament weet ons dat óns nou tempels
van die Heilige Gees is. Wat ‘n wonderlike beweging!
Uit die tempel, in my hart in! God woon nou in mý!
Wanneer die Heilige Gees nóú daardie diep en
on-verwoordbare honger na God in jou binneste losmaak,
gee hierdie Psalm nuwe betekenis aan jou diepste
gevoelens.
Dan smag jy van verlange na die Here.
Dan weet jy dit gaan alles net oor God.
Dan is God jou woning. En Hy woon in jou!

Ernest