Daar blyk ‘n kortsluiting te wees tussen
ons lees van die Bybel en ons alledaagse lewe.
Tussen ons bywoon van eredienste en ons
uitlewing van wat ons daar bely en ontvang.
Tussen ons stiltetyd en die grondvat daarvan
in ons konteks waar ons lewe. Die Bybel,
en ons eredienste, en stiltetye moet ons
lewensgids wees vir daar waar ons lewe grondvat
in praktyk. Ons kan nie ‘n skeiding hê tussen
“geestelike” lewe en “regte” lewe nie.
Ons kan nie in kompartemente lewe nie.

Ons het net een lewe! Een God- gegewe lewe
wat vir Hom geleef moet word. Met liefde vir God
bo alles, en liefde vir jou naaste soos jouself.
En ons bluf onsself deur nou te begin redeneer en
onderhandel oor wié nou ons naaste is. Jesus het nie
hierdie vraag aan die kruis gevra toe Hy met sy lewe
vir almal betaal het nie. Almal! God wil hê dat alle
mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Ons moet so leef dat mense na God getrek word.
Ons moet magneties aantrek, en nie afstoot of wegstoot nie.
God is in beheer van ons ganse lewe, tot in die fynste detail.
Ons moet dit so leef! Ons kan nie kunsmatig in ons lewe
oorskakel van “gewoon” na “geestelik” nie.
Ons is per implikasie geestelike mense omdat God deur
sy Gees in ons woon. En Jesus Christus is ons Here.
Ons volg Hom!

God is teenwoordig. Ons moet sy teenwoordigheid uitleef.
Ons moet onsself al hoe meer daarin inoefen dat ons
bewustelik in sy teenwoordigheid lewe. Dit is iets hiervan,
wanneer Paulus in 1 Tess. 5:17 sê: “Bid gedurig.”
Dit beteken nie om gedurig op jou knieë te staan nie,
of jou hande op te hef nie. Dit beteken eenvoudig om
‘n lewenswyse van gebed te leef. Doelbewus in God se
teenwoordigheid te leef.

Is jou dade ‘n getuienis daarvan? Jou woorde? Jou gedagtes?
Integriteit is wie jy is wanneer niemand anders jou sien of hoor
of kan weet wat jy dink nie.
Dit is wie jy is voor God...

Ernest