Die regte lewe is waar die Here is.
Dit is so eenvoudig soos dit.
Ons is orals en altyd in sy teenwoordigheid.
Die Here is nie in die kerk op Sondae meer
aanwesig as op Maandae en Dinsdae nie.
God se teenwoordigheid is dieselfde,
oral waar Hy is.

Wanneer ons dit regtig begin glo en doelbewus
in sy teenwoordigheid leef, dan neem ons
“bandwydte” dramaties toe vir dit wat die Here
deur ons wil doen. God is dan hoorbaar op baie
meer frekwensies as net “stiltetyd” en “kerk”.
Dan is Hy hoorbaar in “werk” en “sport” en
saketransaksies” en “rekenaargebruik” en “leesstof”,
ja, in elke faset van ons lewe!

Hoe gereeld sê die Woord nie in Openbaring aan die
gemeentes nie: “Elkeen wat kan hoor, moet luister na
wat die Gees vir die gemeentes sê” – Openb. 2:29.
Normale radiostasies het bepaalde frekwensies waarop
hulle ingestel moet wees om die stasie duidelik te hoor.
Die Here se bandwydte is egter eindeloos.
Jy kan Hom letterlik orals hoor! Langs ‘n hospitaalbed,
in jou stiltetyd, in die bos, in ‘n direksievergadering,
op die sportveld, op die strand, in ‘n misdaadsituasie,
langs die braaivleisvuur. Oral! In die totale kosmos!

Stel jouself vandag nog oop vir sy bandwydte.
En elke dag. Sy bandwydte is ruim orals in jou lewe!
Sy spesiale teenwoordigheid is die skepping vol!
Maar Hy woon veral deur sy Gees in jou!
Dit vra nuwe denke, nuwe oë, nuwe ore.
“...laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is,
wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Rom. 12:2.

Ernest