Paulus het al vertel dat dit nie elke dag rooskleurig
is of gemaklik is om die Woord van God aan mense
te bring nie. Party mense het op hulle gespoeg toe
hulle dit gedoen het. Hulle is met stokke geslaan en
in die tronk gegooi. Tog het hulle nie van hulle
roeping afgewyk nie. In 1 Tess. 2:3 lees ons :
“Ons het aanhou preek en vir die mense gesê om
te glo. Ons het nie ons prediking skielik afgewater
of verdraai om onsself te pas nie. Ons het nie
geheime agendas nie.”

Ook vandag is dit nie altyd in ons wêreld maklik om
vir God se dinge op te staan nie. Ons lewens is nie
naastenby so in gevaar as wat dit met Paulus hulle
was nie, of as wat dit vandag ook in ander wêreld
dele is nie. En tog sukkel ons dikwels om dit te doen.
Hoekom?

Wanneer ons deur die Bybel lees is daar “lekker”
tekste wat ‘n mens moed gee en jou dra in jou
omstandighede. Maar daar is ook tekste wat nie so
“lekker” is nie. Tekste wat met skerp lig val op donker
kolle in ons lewe. Ons sien dikwels hoe tekste van
bemoediging op sosiale media heen en weer gestuur
word. En wat ‘n wonderlike geleentheid is dit nie om
mekaar te bedien nie. Ons gee so hoop en bemoediging.
Dieselfde gebeur egter selde met tekste waarmee ons
tereggewys word. En wanneer ons dit ontvang skram
ons weg daarvan.

Wanneer ons ernstig is om God met oorgawe te dien,
moet ons ook die volle waarheid met mekaar deel as dit
nodig is. Ons kan nie net vertel wat mense wil hoor nie.
Ons moet ook mense help met teregwysing, maar dan
met die liefde van die here, sonder om te veroordeel,
en met opregte harte, en die wete dat ons almal worstel
met dit wat ons wil doen en nie doen nie. Ons moet God
se hele boodskap verkondig. Ons moenie water bygooi
om die boodskap te verdun nie. Ons moenie wegskram
van die volle waarheid omdat ons bang is dat ons sal
aanstoot gee nie.

Wanneer ons regtig onder leiding van die Heilige Gees
getuig, kan ons ook weet dat dit nie ons is wat verwerp
word nie, maar die boodskap wat ons dra. Moet daarom
nie ophou om te bemoedig, maar ook in liefde te vermaan
nie. Loop binne die wil van God en dra die volle boodskap
wat Hy aan jou toevertrou het. By jou huis, en jou werk,
by jou vriende, en by vreemdelinge. Oral en teenoor almal.

Moenie sê wat jy dink mense wil hoor nie. Sê wat die Here
wil hê jy moet sê. Wees oop vir die fyn aanvoeling wat die
Heilige Gees jou sal gee. So sal jy die stukrag van die
Heilige Gees in jou hê. So sal jy toelaat dat God self met sy
wonderlike boodskap deur jou werk. Al is daar ook teenstand.
Dan sal God se waarheid die hele tyd seëvier!

Ernest