2 Petrus 3:8-13 skryf treffend oor die wederkoms
van Jesus. Een van die belangrikste feite oor die
wederkoms van Jesus is dat niemand in hierdie
wêreld ooit sal weet wanneer Jesus kom nie.
Geen omstandighede wat ons kan waarneem kan
ons enige idee gee van presies wanneer die
wederkoms sal wees nie.
Die Boodskap vertaal vers 10 so: “Niemand weet
wanneer die Here na ons toe terugkom nie.
Dit sal onverwags wees, net so onverwags soos
‘n dief wat iewers in ‘n huis inbreek. Op daardie dag
sal die hemelruim bokant julle inmekaar stort,
die sterre en die planete sal tot ‘n hoop as verbrand,
en die aarde met alles daarop sal vergaan.”
Ons besef net weereens hoe groot God is!
Hy kan die aarde net ‘n paar kilometer nader aan die
son laat beweeg en ons is daarmee heen! Of net een
van ons planete uit sy baan haal. Ons wil God met ons
klein vermoë vasvang. Dink maar net aan tyd. 24 uur is
een dag en 365 dae is een jaar. Ons lewe so tussen 80
tot 90 jaar as ons gelukkig is. So dink ons oor tyd.
Met God werk dit so totaal anders, sê vers 8:
“My liewe vriende, moenie dink dat God van ons
mensgemaakte kalenders afhanklik is nie. Dit is glad nie
so nie. Vir God is een dag net so goed soos 1000 jaar,
en 1000 jaar net soos een dag.”
Ons kan hoogstens sê dat God so groot is, dat ons
verstaan dat ons nie kan verstaan nie. Dit laat ons net in
eerbetoon voor Hom buig. Maar hierdie gedeelte leer ons
iets wonderlik oor God se grootheid, en tog ook sy deernis
en geweldige groot liefde vir die mens wat Hy geskep het.
Hy stel die wederkoms uit sodat soveel mense as moontlik
tot redding kan kom! Vers 9: “Daarom is Hy glad nie laat
met sy afspraak vir die wêreld nie, al dink party spotters so.
Die Here stel nie sy belofte uit nie. Hy sal sy woord hou.
Op die oomblik is God net geduldig met julle almal.
Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie.
Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. God is so geduldig
met ons. Daarmee kom die oproep na ons elkeen:
Maak seker van jou verhouding met die Here.
Ons leef in genadetyd. Koop hierdie tyd uit deur voluit
vir die Here te leef en sy koninkryk nog verder uit te brei,
terwyl Jesus komende is na ons toe, elke dag!
Ernest