Johannes wil dit eintlik uitroep in sy 1 Johannes brief.
Hy sê in 1 Johannes 1:3: “Wat ons gesien en gehoor het,
het ons so beïndruk dat ons julle eenvoudig daarvan
moet vertel.”
Waaroor, of oor wie praat Johannes hier?
Johannes was ‘n dissipel van Jesus en praat natuurlik
hier oor Hom! Hy het langs Jesus geloop op aarde.
Soms twyfel ons. Daarom is dit so goed om te hoor wat
‘n ooggetuie van Jesus direk vir ons sê oor Hom.
Kyk net hoe treffend begin Johannes hierdie Brief.
Vers 1: “Alles het by Hom begin. Voor alles was Hy al daar.
Wat Jesus kom vertel het, het ons met ons eie ore by Hom
gehoor. Ons het Hom met ons eie oë gesien. Ons het mooi
dopgehou wat Hy gedoen het. Ons kon aan Hom vat en het
ook inderdaad met ons hande aan Hom geraak. Wanneer
ons dus oor Jesus praat, is ons seker waarvan ons praat.”
Wanneer ons die Woord van God lees kan ons dit glo.
Dit is nie maar net uitgedinkte stories nie. Dit is mense wat
ooggetuies was van Jesus se lewe, wat dit vir ons skryf.
Maar Wie is hierdie Jesus?
Wel, Johannes self beantwoord hierdie vraag met vers 2:
“Maar Wie is hierdie Jesus van Wie ons praat? Dit gaan oor
die Een wat ons vertel het waar om die ewige lewe te kry.
Hy self het die ewige lewe. Daarom kan ons Hom “Lewe”
noem. Die “Lewe” het na ons toe gekom.
Ons het Hom goed dopgehou. Wat ons gesien het, het ons
oortuig dat Jesus nie alleen die ewige lewe het nie, maar dit
ook vir ons kan en wil gee. Omdat niemand so naby die
Hemelse Vader staan as juis Hy nie, kan Hy dit doen.”
In Jesus kan ons God sien. In Hom kan ons ‘n prentjie van
die ewige lewe sien.
Daarom kan ons onmoontlik hierdie boodskap net vir
onsself hou! Dit brand in Johannes om dit te vertel.
Daarom skryf hy hierdie brief. Johannes sê in verse 3-4:
“Wat ons gesien en gehoor het, het ons so beïndruk dat
ons julle eenvoudig daarvan moet vertel. Julle weet mos
van die geestelike familie van die Hemelse Vader en sy Seun,
Jesus Christus. Ons behoort nou aan daardie familie. Ons wil
so graag hê dat julle ook deel daarvan moet word. As dít kan
gebeur, sal ons baie bly wees. Daarom skryf ons aan julle.”
Ons het nou deel van hierdie familie geword!
Tog is daar mense wat saam met Jesus in die stofstrate geloop
het, en nie die keuse maak om deel van sy familie te word nie.
Ons het ‘n belangrike rol te speel in hierdie opsig.
Vers 6 sê: “...As ons rondvertel dat ons deel van God se
intieme familie is, maar ons dade vertel die teenoorgestelde,
wat maak dit van ons? Dit maak van ons skaamtelose leuenaars!”
Ons moet so leef en getuig dat ons, soos Johannes, ook brand
van begeerte om God in alles met ander te deel.
Ernest