Ons moet besef dat God besig is om ons
deurgaans te vorm om in te pas met wat Hy
met ons bedoel. Dit is egter ‘n opwindende proses,
al maak dit soms seer, omdat ons weet dat Hy met
ons op pad is! Laat daarom toe dat die Gees jou vorm.
Luister na God se Woord. Kyk hoe stel Johannes dit
in 1 Johannes 1:5: “Jesus het vir ons baie belangrike
dinge kom sê. Ons het mooi na Hom geluister. Wat Hy
vir ons gesê het, vertel ons nou weer vir julle.
God kan vergelyk word met die lig wat skyn.
Soos die lig die duisternis verdryf, so verdryf die
teenwoordigheid van God die Bose heeltemal.”
Jesus het as lig na die donker wêreld gekom om juis
lig te bring en die duisternis te verdryf. Jesus se lig
kom skyn op ons lewens en ons sien wat verkeerd
is onder leiding van die Heilige Gees. Wanneer ons
tot bekering kom is sonde die eerste ding waarmee
ons sukkel. In die verlede het dit nie gepla nie,
maar nou is dit vir ons belangrik. Daarom is ons
ontsteld as ons weer sonde doen.
Johannes gee in vers 7 ‘n antwoord hierop:
“Maar wat nou daarvan as ons iets doen waarvan
God nie hou nie?...vra jy dalk. Wel, dit is juis God
se Seun, Jesus, se offerbloed wat ons geestelik
silwerskoon was – daar bly nie een sonde oor nie!
Dit beteken dat ons rein voor God kan staan.”
Dit is God se meesterplan!
Hy het as’t ware die kruis opgerig dat ek daarteen
kan opstaan en weer verder saam met Hom loop.
Ons almal slaan soms neer in die modder.
Daarom skryf Johannes in vers 8: “Ja-nee, moet my
nie verkeerd verstaan nie: as ons wil voorgee dat ons
nooit sonde doen nie, slaan ons die bal heeltemal mis.
Wie dit sê praat nie die waarheid nie.”
En dan breek Johannes weer die goeie nuus oop vir ons:
“As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het,
en nooit weer dieselfde foute wil maak nie,
sal God van sy kant af heeltemal van ons sonde vergeet.
Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles waarvan
Hy nie hou nie.”
Dit is so ‘n kragtige vers! Lees dit sommer weer!
Dit is ons reddingstou. Die belofte:
God sal ons sonde vergewe! Sal! Nie miskien nie.
Nie dalk nie. God sál dit vergewe, en Hy sál dit vergeet!
Wil jy nie hierdie teks elke dag onthou en daaruit lewe nie.
Voluit daaruit lewe!
Ernest