Onthou weer 1 Johannes 1:9:
“As ons egter voor God erken dat ons foute
gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil
maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van
ons sonde vergeet. Hy sal ons geestelik skoon
was van alles waarvan Hy nie hou nie.”
God sal van sy kant af ons sonde vergeef en vergeet.
Maar ons moet dit ook van ons kant af doen.
Ons moet God op sy woord neem hiervoor en nie
weer ou sonde gaan uit die sloot grawe nie.
Die duiwel wil ons bly aankla met sonde wat ons
gedoen het, en ook klaar vergifnis voor ontvang het!
Moenie val vir hierdie leuen van die duiwel nie. Moenie!
Daar is nie sommige sondes wat soos ‘n rooiwyn vlek
in ‘n wit tafeldoek bly sit nie. Selfs nie eers soos
‘n dowwe kol nadat jy die tafeldoek gewas het nie.
Wanneer God ons “geestelik skoon was” van ons sonde,
soos Johannes dit sê, dan bly daar nie eers ‘n dowwe kol
oor nie. Die duiwel wil heeltyd die klip van die sonde
terugsit in jou skoen sodat jy as’t ware mank en sonder
spoed probeer loop in die spore van die Here.
God vergeet en vergewe, en dit bestaan nie meer vir
Hom nie. Onthou weer Psalm 103:12:
“So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder
Hy ons oortredinge van ons af”!
Wees daarvan verseker: As jy van jou kant af gekom het
met berou. Vers 9: “As ons egter voor God erken dat ons
foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie.”
Soms weet ek nie eers van foute wat ek gemaak het nie.
Dan vergewe God self daardie foute wanneer ek in berou
en opregtheid voor Hom buig. Daarom sê die einde van
vers 9: “Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles
waarvan Hy nie hou nie.” Sien jy? - “...skoon was van
álles waarvan Hy nie hou nie”. Ons moet voor God berou
hê met die doel om met die sonde te breek wat ons bely!
Vers 9 sê tog: “...en nooit weer dieselfde foute wil maak nie.”
Ons moet die Heilige Gees vra om ons hiermee te help,
en dan moet ons aan Hom gehoorsaam wees en Hom nie
weerstaan nie. God gee juis die Gees om ons hierin te help,
en ons verder te laat groei om die vrug van die Gees te dra!
Die volle impak van wat God vir ons doen sal ons seker
nooit kan begryp nie.
Daarom kan ons net in dankbaarheid vir Hom lewe!
Dankie...dankie...Here!
Ernest