Handelaars moet gewoonlik baie stoor
ruimte vir hulle produkte hê. Dikwels stoor
ons ook baie goed in ons huis. Of motorhuis.
Een ding waarvoor ons nie stoor ruimte nodig
het nie is slegte dinge in ons lewe.
Die Here gee nie aan ons stoor ruimte vir sonde
wat vergewe is nie. Ons moenie dit êrens in
‘n argief gaan bêre nie. Elke nuwe dag begin God
met ons oor, en van voor af. Die Here het ons
denke vernuwe en wil nie hê dat ons sonde stoor
wat Hy vergewe het nie. Want dan gaan haal ons dit,
met die hulp van die duiwel wat ons mislei,
gereeld soos ou koeie uit die sloot.

Wanneer God ons vergewe wil Hy hê dat ons vry
sal wees van daardie sonde, en dit sal vergeet.
Ons moenie weer en weer daaraan dink en die duiwel
daardeur vatkans gee nie. Onthou wéér Psalm 103:12:
“So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder
die Here ons oortredinge van ons af.”
In Martin Luther se woorde duld ons dit nie meer dat
mossies in jou kop nes maak nie. Jy kan nie keer dat
hulle oor jou kop vlieg nie, maar jou kop is nou ‘n
ontoeganklike blyplek vir hulle. Ou sonde wat vergeef is
in die Naam van die Here is geskiedenis!
Jy weier hulle toegang! Jy onthou nie meer jou sonde
as jy dit met ware berou en opregte geloof by die Here
neergesit het en vergifnis daarvoor ontvang het nie!

Ons hemelse Vader het verseker nie stoorplek daarvoor nie.
Hoekom wil jy dit stoor? Jesus se bloed skryf oor sonde
wat bely is: Ten volle betaal en vergeet!
Die hemelse lig het daarop geval. Dit is nie meer duisternis
in jou lewe nie! Leef nou reg en vergeet reg!

Ernest