Stoor die vrug van die Gees,
waarvan Galasiërs 5:22-23 praat:
“Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede,
geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
nederigheid en selfbeheersing.”
Die Heilige Gees wil ons gedagtes rig op die
dinge daarbo, dit wat God vir ons bedoel.
Ons moet toelaat dat God ons verander deur
ons denke te vernuwe. Dit is wat Romeine 12:2 sê.
En verder: “Dan sal julle ook kan onderskei wat
die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik
en volmaak is.”
Almal wie se lewens deur Christus aangeraak is,
is splinternuwe mense! Die Heilige Gees wil ons nou
propvol laai met hemelse energie en krag.
Daar is nie meer stoor ruimte vir gemors in ons
lewens nie! Ons het nou ruim stoor ruimte gekry vir
dit wat God in ons wil laat groei deur die Gees.
Ons het nou ‘n eindelose kapasiteit vir God se
hemelse gawes! Nuwe koppe en harte wat die ou
lewe vergeet en die nuwe lewe leef!
Die heel sterkste bewaarder in die heelal bewaar
ons stoor ruimte. Dit is die Heilige Gees!
Niks kan dit wat God in ons kom doen sommer net
kom roof nie. Net ons self kan dit toelaat...
Daarom moet ons ons deur die Gees laat lei!
Hy beskerm ons met ‘n muur van vuur.
Sonde kan nie deur sy “fire wall” dring nie,
behalwe as ons self dit toelaat. Daarom is ons nie
uitgelewer aan die bose nie. Slegs as ons self kies
om sonde in te laat, kan dit insluip. Dan gee jy self
die duiwel vatkans. “Moenie die duiwel vatkans gee nie”,
sê Efesiërs 4:27. “En moenie die Gees van God
bedroef nie...”, sê vers 30, want Hy het jou klaar as die
eiendom van God beseël!
Moenie die vyand vatkans gee in jou gedagtes
en in jou hart nie. Onthou: Dit is elke dag joú keuse!
Laat die Heilige Gees elke dag toe om sy
oorwinningswerk in jou te bewerk!
Ernest