“...maar daar kan ook ‘n vriend wees wat
nader is as ‘n broer” – Spreuke 18:24.

Die meeste mense gebruik mekaar tot hulle eie voordeel,
en gebruik eintlik mekaar op in selfsugtigheid “...maar
daar kan ook ‘n vriend wees wat nader is as ‘n broer.”

Dawid en Jonatan was ‘n vriendskap wat nader was as broers.
Geen wonder hulle vriendskap het ‘n idioom geword nie.
“Hulle is soos Dawid en Jonatan!”
Koning Saul, Jonatan se pa, wil Dawid doodmaak.
Jonatan help egter sy vriend Dawid. Dit laat koning Saul selfs
teen sy eie seun draai en hy poog om hom dood te maak!
Gelukkig het hy hom misgegooi met sy spies. Wanneer Dawid
en Jonatan afskeid neem huil hulle. Ware vriendskap lê diep in
die hart en gebruik of misbruik nie mekaar tot eie voordeel nie.

Wat kos vriendskappe jou? Oordink hierdie woorde:
“A real friend is one who walks in when the world walks out.”
Beskerm jy jou vriende? Bly jy lojaal aan hulle? Hou jy kontak?
“Friendship is one mind in two bodies”.
Ware vriendskap is ook eerlik. Dit is reguit.
Nie ongeskik reguit nie, maar regtig eerlik.

Daarom bid jy gereeld vir jou vriende. Jy verstaan hulle foute,
al bedoel hulle goed. Jy dra daarom ook hulle laste voor die Here.
Ware vriendskap is energie- gewend en nie toksies nie.
Kies jou vriende. Beleef God se teenwoordigheid in vriendskap.
En wees saam suurdeeg, sout en lig in die wêreld.
Vriendskap met getuienis!

Ernest