Almal van ons het al ons koppe gestamp.
Weer gestamp, en weer, en hard gestamp.
Ons is dikwels so koppig! Ons is as’t ware
ten opsigte van sekere oortuigings of reaksies
“onleerbaar”. Ons bly ons eie koppe volg.
Geen wonder dat Paulus in Efesiërs 4:23 sê
“julle gees en gedagtes moet nuut word” nie!
Ons moet gedurig doelbewus ingryp in ons kop,
anders bly ons gedagtes en reaksies die ou paaie
loop, wat kopstamp paaie is. En dan verkrummel
ons getuienis vir die Here stukkie vir stukkie.
Ons het sulke “kopkaarte” opgebou oor hoe ons
in krisisse en probleme reageer. Dikwels ter wille
van eie belang! As dit nie altyd ter wille van eie
belang is nie...
Maar hierdie aangeleerde gedrag ter wille van
myself kom nie noodwendig van die Gees af nie.
Ons moet onder leiding van die Heilige Gees
uitgediende denkpatrone en denkfoute raaksien.
Ons moet toelaat dat die Gees ons gedagtes op
Christus rig. Hy moet in die voorgrond van my
denke wees!
Dit is ‘n lewenslange stryd om dit te laat seëvier.
Maar dit is juis in my kop waar die veldslae gewen
of verloor word. In die Naam van die Here en onder
leiding van die Gees moet ek beheer neem van my
denke en dit nie soos ‘n los perd laat hardloop nie.
Wanneer ek my kop in óngehoorsaamheid aan
die Gees stamp, moet ek dit erken en bely,
en weer onder leiding van die Gees gaan leef!
“Ons lewe deur die Gees;
laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”
– Galasiërs 5:25.
Ernest