“Wêreldbekend is ‘n begrip wat soms oordadig
gebruik word vir iets wat nie regtig wêreldbekend is nie.
So adverteer ‘n Nieu-Seeland koerant ‘n bekende
plaaslike koeldrank as “Word famous in New Zealand!”
In Suid Afrika weet ons nie eers van die bestaan van
die koeldrank nie.

So moet ons ook as navolgers van Jesus in ons eie
omgewing wees. “Wêreldbekend!”
In ons eie omgewing, gemeenskap, werkplek
en vriendekring moet ons “wêreldbekend” raak vir die
Goeie Nuus wat ons dra en uitleef.
Daar in ons eie huise, familie, vriendekring en tussen
ons eie kollegas. By bekendes en onbekendes met wie
ons te doen kry moet ons beleef word as draers van die
Goeie Nuus.

Beleef mense jou as iemand met ‘n warm hart en
‘n oop hand in Jesus se Naam?
Mense moet Jesus in joú raakloop in die kringe waarin
jy beweeg en leef. Ons moet die wêreld vol aan diens
wees vir Jesus. Wanneer ons oral in Jesus se voetspore
loop in die normale lewe, gaan mense in ons omgewing
Hom ook daar raakloop, ook in óns lewe.

Die evangelie kan nie net bekend wees op amptelike
kerklike terrein nie. Dit kan nie net in Sondae
byeenkomste verpak wees nie. Of in weeklikse
Bybelstudies en kleingroepies nie.
Dit moet in my straat ‘n verskil maak. In my buurt.
Om die hele wêreld vir Christus te wen begin in my eie
straat, by my buurman, waar ek in die winkels koop,
waar ek brandstof ingooi. Om groot dinge vir die Here
te doen begin by plaaslike relevansie.

Mense naby aan my moet agterkom dat my geloof
‘n verskil maak. My daaglikse lewe moet oorspoel
word met woorde en dade van deernis, medelye en
omgee. Mense moet in my teenwoordigheid die
goedheid van die Here beleef, en Hom eer!
Hoe meer ek so leef, onder beheer van die Heilige Gees,
hoe minder gaan mense van mý sien,
en hoe meer van die Here ervaar!
Ek word in die proses minder, en Hy meer!

Ernest