In Lukas 8:39 lees ons: “Die man uit wie die
duiwels uitgevaar het, het Jesus gesmeek om
by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom
weggestuur en gesê: “Gaan terug na jou huis toe
en vertel alles wat God vir jou gedoen het.”
Hy het toe teruggegaan en die hele dorp deur
bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.”

Let op die opdrag wat Jesus gee:
“Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God
vir jou gedoen het.” Die man doen meer as om net
in sy huis te gaan vertel. Hy vertel die hele dorp deur.
Hy is plaaslik aktueel en aan die brand vir die Here!
Hy getuig oral waar hy gaan van God se dade in sy lewe.

Dit is hoe die Here die wêreld verander deur die wat
vir Hom getuig. Deur een getuienis, een persoon,
een straat, een woonbuurt, een dorp op ‘n slag!
Wanneer elke volgeling van Jesus dit doen word
die wêreld omgekeer.
Die persoon hoef nie saam met Jesus te gaan en
by Hom te bly nie, al smeek hy om by Hom te kan bly.
Jesus stuur hom terug na sy eie huis, straat en dorp.
Daar moet hy die vuur gaan aansteek vir die Here.
So verander die wêreld waar jy leef ter wille van
die Here. So word sy koninkryk gebou en uitgebrei.

Jesus sê: Gaan terug...
Gaan na jou eie mense toe. Steek die wêreld daar aan
die brand vir die Here. Doen dit deur een gebed saam
met iemand wat dit nodig het, een woord van bemoediging,
een woord van padlangse waarheid en teregwysing.
Hierdie opregte betrokkenheid is bediening!
Dit het diep waarde. God doen groot daarmee!
Dit is nie net oppervlakkige humanistiese dade om mense
te laat goed voel nie. Dit is jou bediening vir die Here.
Dit begin by jou huis, straat, buurt, vriendekring,
waar jy werk, leef en speel. Orals! Padlangs!

Ernest