Ons kan regtig maklik in allerhande godsdienstige
gesprekke verval wat ver van die kernwaarhede
van ons geloof lê. Dit kan selfs in twisgesprekke
verval oor groot- of kleindoop, watter dag reg is
om as “sabbat” te vier, wat op ‘n Sondag sonde
is of wat nie? En so kan ons aangaan.

Hieroor skryf Paulus ‘n belangrike ding in
Romeine 14:17: “Die koninkryk van God is nie
‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid
aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.”
Wát is die on-onderhandelbare waarhede waarop ons
as navolgers van Christus staan, en wat ons daagliks moet
uitleef? Paulus se antwoord is helder en duidelik.

Die evangelie is nie ‘n saak van eet en drink nie,
maar van vryspraak voor God, en vrede en blydskap in
die Heilige Gees. Wat beteken dit?
Dit beteken, anders gestel,
die evangelie gaan oor ‘n lewens-veranderende
verhouding met die lewende God,
wat voortspruit uit sy vryspraak,
en opgevolg word deur vrede in die hart,
en ‘n beker wat oorloop van vreugde,
en blydskap in die Here!

Die vryspraak waarna Paulus in Romeine 14 verwys hou
verband met God se openlike verklaring van ons onskuld!
Ja, jy het reg gelees! Die openlike verklaring van ons
onskuld omdat ons in Jesus Christus as ons Here en
Verlosser glo! Hy het in ons plek die offer gebring wat
God volledig aanvaar het. Om in Hom te glo is om
vrygespreek te word deur die Regter van die kosmos!

Die anker van ons geloof lê in die belydenis dat
Jesus die Here is. Jesus se Persoon, saam met die feit dat
Hy sy lewe weggegee het aan die kruis ter wille van ons,
is die on-onderhandelbare boodskap van die
Nuwe Testament. Om net maar in Jesus se aardse leringe
belang te stel, asof Hy net nog ‘n goeie wysgeer is,
is nie genoeg nie. Ons kan alles van Hom en wat Hy
gesê het “weet”, en daarmee Hom nog steeds verskraal
tot net nog ‘n rabbi, of wysgeer, of profeet in Israel.

Nee! Hy is eindeloos meer as dit! Hy is Jesus die Here!
Hy is die weg en die waarheid en die lewe!
Niemand kom na die Vader toe nie, behalwe deur Hom!
Hy het alle mag in die hemel en op die aarde!
Laat die Heilige Gees jou met hierdie waarhede besig hou!

Ernest