Ons hou nie daarvan om verkeerd te wees nie.
Ons hoor gereeld dat mense sê:
“Ek was verkeerd, máár...”
Ons erken moeilik onvoorwaardelik dat ons
verkeerd is. Ons weet ook goed wat verkeerd
is met ander mense.
Ons kan lang gesprekke daaroor voer.
Maar ons is nooit self heeltemal verkeerd nie,
al is ons!
Dalk is dit hoekom ons so sukkel om regtig
voor God te buig. Daardie daaglikse buig voor God,
met ‘n nederige hart.
1 Petrus 5:6 sê: “Onderwerp julle daarom in
nederigheid aan die kragtige hand van God ,
sodat hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy
bestem het.”
Ons sukkel selfs om vir God te sê ons is verkeerd,
sonder enige “maars”! Ons sê dit nie,
maar ons onderwerp ons moeilik.
In die erediens sing ons “niks noem ek my eie meer”.
Dan stap ons uit en neem dit weer.
Die Here weet alles van ons. Van ons halfhartige berou
vol “maars”, tot ons middelmatige offers in sy diens.
Wat is God se reaksie hierop? Bykans “ongelooflik”!
Hý reageer met vergifnis en genade!
‘n Daaglikse voor begin, en oor begin in sy Naam!
Hoe groot is Hy nie! En hoe klein ons...
in ons grootheidswaan...
Ernest