“Ek wag op die Here meer as wat die wagte op
die more wag, wagte op die môre.
Psalm 130:6.
Ons hou nie van wag nie.
Ons dink aan toustaan en frustrasie.
Ons verander in ‘n paar minute in ‘n ongelukkige
wese in ‘n tou. Dan hoor jy van swak diens en
onbekwame mense. Party mense wag hulleself
letterlik dood. Hulle kry hartaanvalle!
Van woede en frustrasie.
Ons moet reg leer wag.
Ons moet elke dag op die Here wag. Meer as wat
ons op die nuwe dag wag! Ons moet leer om op
Hom alleen te wag!
Om op God te wag, is nie om te wag vir brood nie,
maar op die Here wat self ons daaglikse Brood is.
Dit is om nie te wag op regte water nie,
maar op Christus self as die Water wat lewe gee.
Dit is om nie te wag op herlewing wat God moet stuur nie,
maar op God as herlewing!
Dit is om nie te wag op God se plan vir ons lewe nie,
maar op God as die Plan vir ons lewe.
Dit is om nie te wag op die groen weivelde wat die Herder
gee nie,
maar op die Herder self as die weiveld.
Ons moet lewenslank op die Here wag!
Dag vir dag, uur na uur, moet ons op Hom wag.
Ons wag totdat ons saam met Psalm 23:1 kan sê:
“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.”
Die regte soort wag maak ons bruikbaar vir die Here,
oral, ook wanneer ons in ‘n tou wag!
Die wêreldvreemde rustigheid in die Here wat hieruit
voortspruit, trek mense soos ‘n magneet aan na die Here.
Dit doen die Here, wat die Gees is, in jou!
Ernest