Die koningin van Skeba het met baie vrae
by Salomo opgedaag. Sy wysheid en welvaart
het haar heeltemal verras.
Sy kry ‘n wyse antwoord op elke vraag!
2 Kronieke 9:2 sê: “Salomo het vir haar ‘n antwoord
gehad op al haar vrae.
Niks was vir Salomo onverklaarbaar nie:
hy kon haar op alles antwoord.”
Sonder vrae leer ons nie en groei ons nie.
En by al die vrae kuier die twee ook nog lekker,
met lekker kos!
Dit is goed om goeie lewensvrae te bespreek
in die teenwoordigheid van wysheid,
so tussen die lekker kuier deur.
Hoe verryk gaan ons nie van ‘n kuier of van iemand
af weg na die mededeelsaamheid in wysheid nie.
Om saam met ‘n vertroueling vriend oor ‘n koppie
koffie te kuier is deel na die lewe wat die Here ons
laat geniet. Doen dit. Groei saam!
Iemand sê hy weet nie hoe het Adam en Eva nie al
in die paradys die koffieboom ontdek en ontgin nie!
Hoe kon die paradys die lekkerte van koffie-kuier mis!?
Kos is ook ‘n gawe uit God se hand. Ons moet as’t
ware elke dag feesvier om ‘n lekker stukkie kos.
Met klem op stukkie en nie ooreet nie...
In gesonde dosisse moet ons feesvier!
Ons hoef ook nie vir die regering of die kerk te wag
om feesdae uit te roep nie.
Elke dag is ‘n gawe uit God se hand om die lewe as
‘n fees te vier!
En die Here is self die Eregas aan die tafel van gelowiges
wat lekker saam kuier. Vier fees in sy teenwoordigheid.
Moenie net aan die begin in tafelgebed aan Hom dink
en Hom dan in die geselskap vergeet asof Hy verdaag
het nie.
Vra ook jou goeie lewensvrae en deel in mekaar se
wysheid wat die Here gee, deur sy Gees.
Hoekom verval ons goeie geselskap so dikwels in die
Negatiewe dinge van ons tyd en ons gaan uitmekaar,
armer, eerder as ryker...?
Geniet die lewe. Vier die lewe!
Ernest