Ons hoor dikwels wanneer iemand tereggewys
word dat hy of sy sê:
“Moet jy nou nie so hoogheilig wil wees nie”.
Asof jy nie ook foute het nie. Mense gebruik dit
ook as verskoning om nie kerk toe te gaan nie
want die wat daar sit hou hulle so “hoogheilig”,
en is “skynheilig”.

Gelukkig beteken heilig in die Bybelse sin van
die woord nie dat jy baie min of geen sonde het nie.
Ons wil ook nie oor ‘n heilige dink soos die Rooms
Katolieke kerk wat mense tot heiliges verklaar nie.

Paulus se begrip van heiliges is wat ons wil wees.
Hy noem alle gelowiges heiliges. Hierdie term is nie
eerstens ‘n verwysing na ons manier van leef nie,
maar na ons nuwe posisie voor God, in Christus.
Dit is ‘n aanduiding dat ons sy kinders is.
Heiliges is God se eksklusiewe eiendom wat deur
Christus vir God gekoop en betaal is aan die kruis.

Heiliges is mense wat voltyds opsy gesit is om hulle
lewe aan God te wy en om Hom te dien en lief te hê.
Natuurlik moet heiliges ook heilig leef omdat God heilig is.
Ons lewe is die sigbare bewys dat ons aan God behoort.
Nie net ons belydenisse nie, maar ook ons lewe daarmee
saam vertel die volle verhaal. Al ons mooi woorde help
niks as ons dade nie bevestig wat ons glo nie.

Een so ‘n heilige wat die verbeelding aangryp is Esra.
Die Here het hom uit Babel gestuur om sy volk in Juda te
gaan onderrig in die wil van die Here. Esra se toewyding
en liefde vir die Here was magneties!
Sy gebed van verootmoediging in Esra 9 het oorgespoel
na die res van die mense om voor God te kom staan.
In vers 15 bid Esra: “Hier is ons voor U met ons oortredings,
maar so kan niemand voor U staan nie.”

Saam met Esra moet verootmoediging en berou oor ons
sondes en foute deel wees van ons heilige lewe!
Ons buig juis laag voor die Here, as heiliges wat aan Hom
behoort!
Dit is juis hoogmoed wat jou aan iemand anders laat sê
hy moet nou nie so “hoogheilig” wees nie...!
Of die wat in die kerk sit is “skynheilig” nie.
Juis wanneer kinders van die Here, heiliges,
hulle in ootmoed aan die Here toewy, om Hom met alles
in ons te dien en lief te hê,
juis dan wen die regte soort heiligheid voor God!

Ernest