Iets van ‘n heilige lewe word ook deur
Nehemia se lewe gewys. Hy was ‘n Israeliet
wat groot naam gemaak het in die buiteland,
daar in Babel. Hy het die Persiese koning se
skinker geword. Hy was in die binnekring van
die politieke mag van sy tyd.

Toe bereik die nuus hom van sy volk se haglike
omstandighede in Jerusalem. Hulle tempel
was nou bykans heeltemal herstel, maar die
muur om die stad was nog ‘n chaos hoop en
die volk het swaar gely.

Hierdie was die Goddelike krisis-moment in
Nehemia se lewe. Dit was die kruispad oomblik
waar hy moes kies tussen eie gerief en hoë
aansien in die Persiese ryk, of ‘n harde lewe in
moeilike omstandighede van diens en toewyding
aan God en sy mense in Jerusalem.
Nehemia doen nie die gemaklike ding nie,
maar die regte ding. Nehemia 1:4 sê hy het
dadelik God se hulp in gebed gaan opsoek.
Hy moes sy eie lewe gaan meet aan dit wat
God wil hê.

Net daar het Nehemia sy goed gepak en
teruggegaan na Jerusalem.
Wat het gemaak dat Nehemia, menslik gesproke,
stroomop gekies het teen sy eie gerief, aansien
en belange? Net een ding:
Hy was bereid om hom ten volle aan God se wil
te onderwerp. Hy was bereid om God se mense te
gaan help en hulle te dien en te lei in God se Naam.
Hulle nood in God se oë het swaarder geweeg as
sy eie status en voordele.

Skielik was daar geen ander keuse nie!
Net God se pad. Dit is die enigste pad.
Wanneer God ingryp in ons omstandighede,
in ons lewe, verander ons prioriteite totaal!
Ander se belange word belangriker as ék.
En, die Here word my lewe! Psalm 16:5:
“Here, U is my lewe...”

Ernest