Hoe ver is God?
Is dit tydmors om te bid as my lewe ‘n gemors is?
Sal God dan steeds na my luister?
God is nie ver nie!
Mense maak ons wys dat God vir een of ander rede
nie sal luister nie. God luister graag na enige een wat
sy Naam aanroep, al is jou lewe in hoe ‘n groot gemors!
God is een gebed, een woord ver, wanneer jy Hom aanroep.
Gebed oorbrug elke afstand, elke kloof.
Ek hoef nie te skree nie, nie in ‘n tou te staan nie,
nie groot of moeilike woorde te gebruik nie,
nie lang gebede te bid nie, nie “anders” te praat nie,
niks weg te steek nie, geen nuus te breek nie...
God weet klaar en verstaan die beste, meer as ekself.
God is naby. So, so naby. Word in alledaagse gesloer,
en selfs in akute angs, net bewus van sy hand op jou...
Dit is al gebed!
Die vreugde van die Here, die vreugde wat ons bekragtig,
die vreugde wat niemand van ons kan wegneem nie,
groei uit ‘n lewe waarin “praat met die Here”
‘n doodgewone deel van jou daaglikse lewe is.
Dit is gebed.
Ons voel en sê dat ons magteloos is teen die kwaad en
onreg en pyn in die wêreld. Gebed is die magtige wapen wat
God ons gee om in so ‘n wêreld te oorleef, en vir Hom te leef!
Tóg, is ons te “besig”...om te bid.
Ernest