Op ‘n rugsak wat ‘n jongmens dra staan die woorde:
“Life is good!” Hierdie positiewe woorde laat jou goed voel.
Maar ons weet ook die lewe kan soms erg bitter wees.
Die lewe gooi ook “curve balls” na ons toe.
Die woordeboek sê ’n “curve ball” is “something which is
unexpected, surprising or disruptive”.
Dinge wat in ons lewe gebeur wat ons nie beplan nie,
en golwe en storms op die kalm waters bring.

Die Israeliete het heelwat “curve balls” gekry op pad na
die beloofde land. Hulle het ‘n noue ontkoming by die
Rooisee, trek deur die woestyn sonder water vir drie dae,
en kry uiteindelik bitter en ondrinkbare water! Die bitter
water veroorsaak dat die Israeliete self bitter word met
die lewe!

Ons lees in Psalm 42 dat Dawid ook op ‘n tyd gevoel het
genoeg is nou genoeg! Hy vra moedeloos waarom hy so
swaar moet kry. Maar dan herinner Dawid homself aan
Wie God werklik is! Hy sê verder vir homself dat hy nie
moedeloos moet word nie en net op God moet vertrou.
Hy sê dat hy God gaan loof, al kry hy baie swaar,
want God sal hom uit die swaarkry red.

Die Israeliete het in die woestyn ongelukkig nie so vinnig
geleer nie en twyfel keer op keer in God se vermoë.
Keer op keer moet Moses hulle leer dat God hulle juis wil
leer om aan Hom gehoorsaam te wees en Hom te vertrou,
ongeag die omstandighede.

Hoe lyk jou lewe? Kan ons ook sê: “Life is good!”,
ongeag ons omstandighede?
Kan jy soos Dawid jouself herinner aan God se goedheid
in jou lewe? Sy oneindige liefde vir jou?
Of veroorsaak die bitter water van die lewe dat jou hart
ook bitter word? Swaar tye en bitter tye is onafwendbaar.
Ons gaan “curve balls” kry, en ons moet hulle “bat”!
Dit is juis in die swaar tye wat jy regtig leer dat God jou
nooit verlaat nie! Hebreërs 13:5:
“Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Ernest