Paulus wil graag vir Timoteus na die gemeente
in Filippi stuur. Hy sê in Filippense 2:19:
“Ek hoop om Timoteus gou na julle toe te stuur,
want dit is wat die Here Jesus wil hê. Ek kan aan
niemand anders dink wat soveel vir julle omgee
as hy nie.”
Timoteus het ‘n hart vir mense. Hy gaan verder as
‘n epos, of ‘n selfoon oproep, of ‘n watsap.
Hy gaan na iemand toe wat regtig sy hulp nodig het.
Sal ons alles net so los en iemand gaan help wat in
die moeilikheid is? In die volgende vers sê Paulus:
“Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat dit
wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is.”
Hierdie teksvers stamp ons bietjie voor die bors in ons
besige lewe. Ons het te besig geraak. Besiger as wat die
Here ons wil hê. Ons leef asof dit altyd “crunch” tyd is
in ons lewe. “As ek net eers hierdie ding agter die rug het...”
sê ons altyd vir onsself, “dan sal ek meer tyd hê...”
Is ons ook so besig met ons eie dinge, dat dit wat Christus
wil hê van minder belang is. Ons moet bestek opname doen.
Wat is belangrik, en wat is noodsaaklik? Wat wil die Here hê?
Ons dink alles wat óns raak is belangrik. Eiebelang is vir ons
almal baie belangrik. Is dit noodsaaklik?!
Ons moet doelbewus begin tyd bymekaarmaak om as deel van
God se reaksie eenheid te doen wat Hy wil hê ons moet doen!
Het ek genoeg tyd vir Hom?
Dit is in elk geval sý tyd wat Hy vir my gee.
Genadetyd!
Ernest