Ons gebruik so dikwels die woord “maar”
in ons verskonings of redenasies. Ook wanneer
dit moeilik gaan in ons lewe kruip die woordjie
“maar” nader in ons lewe.

Wanneer mense ons dan bemoedig en motiveer om
vas te byt, en te glo dat alles ten goede sal meewerk,
dan sê ons: “Ja, ek glo dit, ek weet dit, maar....”
Dit is alles pogings van die vyand om ons te laat twyfel
in God se teenwoordigheid, sy goedheid, en sy beloftes.
Elke keer as ons swaar kry gebruik ons die woord “maar...”

Kom ons raak vandag opnuut bewus van die krag in God
se Woord! Die profeet Habakuk sê in hoofstuk 3:17:
“Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe aan
die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die
lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die
kampe meer wees nie, en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder.”
Hierdie man praat van alles verloor! Dit is nie gemaklike
omstandighede nie, maar krisistye waarvan hy praat. Nogtans!

Habakuk se “maar” verander in “nogtans”. Hy sê nie:
“Here U het belowe en nou laat U my in die steek” nie.
Hy sê al misluk die oes, nogtans sal hy jubel in die Here!
Hy sê nie “Here, U het gesê my toekoms is in U hande,
maar nou het ek my werk verloor” nie. Hy sê: “Here,
ek het my werk verloor, ek weet, my toekoms is in U hande!
Nogtans sal ek in U jubel, sal ek juig in U my Redder.”

Wanneer ons “maar” elke keer ‘n “nogtans” word,
het die duiwel ‘n skraal kans of geen kans om ons te laat
twyfel in God se goedheid en sorg vir ons! Kitsresep? Nee!
Onvoorwaardelike vertroue in die Here, ten spyte van? Ja!!

Ernest