Om iemand te vertrou beteken dat jy die geloof
en oortuiging het dat daardie persoon jou nie
gaan teleurstel nie.
Dit is maklik om te sê God sal voorsien as jy alles
het wat jy nodig het. Maar om letterlik niks in jou
koskas te hê nie en dan te glo en te sê dat God sal
voorsien is ‘n ander saak. Om die Here te vertrou
klink na ‘n goeie idee totdat jy in ‘n situasie kom
waar jy regtig die Here moet vertrou. Ons het alarms,
en buurtwagte, en deure met baie slotte, en dan sê
ons maklik die Here gaan ons bewaar. Maar wanneer
iemand in ‘n plakkerskamp bly, sonder buurtwag,
heinings, elektriese drade, slotte en selfs deure,
dan is dit ‘n bietjie anders vir so ‘n persoon om te bid
vir bewaring deur die Here. Praat net met Christene in
sulke omstandighede oor hulle gebede, en jy besef dit.
Hulle gebede het soms ‘n ander diepte en egtheid wat
ons nie ken nie.
Wanneer die Israeliete se kos opraak in die woestyn is
daar nie lande om te oes of koskaste om te gaan haal nie.
‘n Wonderwerk gebeur. Hulle kry elke oggend kos uit die
hemel. Manna, wat soos ryp gelyk het en soos heuningkoek
geproe het. Saam met hierdie voorsiening sê die Here hulle
moenie van vandag se manna bêre vir môre nie. Môre sal
die Here self weer vars manna vir hulle uit die hemel gee.
Hoekom sê die Here dit? Hy wil hê hulle moet Hom vertrou!
Hulle twyfel en berg die manna vir die volgende dag.
En die volgende dag is die manna sleg. Hulle moes leer dat
God sy beloftes nakom. As Hy sê dat Hy sorg, dan doen Hy.
Die probleem kom as Hy anders vir ons sorg as wat óns graag
wou hê. Dan skuif ons fokus na óns behoeftes in plaas van God
se versorgende hand en sy voorsiening.
Klaagliedere 3:22 sê die Here se liefde en omgee vir ons is
elke môre nuut! Net soos die manna vir die Israeliete.
Filippense 4:19: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik
voorsien volgens sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus.”
God se voorsiening is nie altyd soos ons dit wil hê nie,
met ons voorkeure en grille en selfsug nie.
Weet en vertrou egter dat God sal voorsien en sorg, elke dag,
in alle omstandighede. Vertrou Hom!
Ernest