Een van die mooiste prente is om langs ‘n rivier
of dam te sit en te kyk hoe beelde in die water
weerkaats. Bome, sonsondergang, diere se
weerkaatsing, dit alles is so mooi as dit in water
weerkaats.
Wat sien mense as hulle na ons kyk.
Wat weerkaats ons? Wie weerkaats ons?
Sien hulle ’n refleksie van Jesus Christus?
Elke dag is ‘n geleentheid om Jesus na die wêreld
te weerkaats. Hoe gaan ons dit regkry om sy beeld
helder en duidelik te weerkaats?
Paulus sê self in Romeine 7:19 die goeie wat hy wil doen,
die doen hy nie, en die slegte wat hy nie wil doen nie,
die doen hy! Maar, dan sê hy ook in 2 Korintiërs 3:18:
“Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van
Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat ons uitstraal
neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
Dit is ‘n wonderlike troos!
God weet ons kan dit nie uit ons eie regkry nie.
Daarom gee Hy die Heilige Gees om die werk binne in ons
te doen. Ons het regtig die verantwoordelikheid om te
besef dat ons nie vir onsself leef nie. Ons leef vir Christus!
Daarom moet ons die Heilige Gees toelaat om ons lewe
oor te neem en so die beeld van Christus te weerkaats!
So word ons vir ander mense wat die Here in hulle
omstandighede vir hulle wil wees. Die Here werk dan,
deur ons. Hy doen dit alles!
Leef naby die Here sodat jy Hom kan weerkaats.
Bome wat ver van die rivier af staan weerkaats nie in die
rivier nie. Kom ons weerkaats die Here in hierdie wêreld!
Ernest