Hoekom is dit so moeilik om dit waarin ek glo
en dit waarvoor ek staan hard uit te roep?
Hoekom kruip ek in my dop, veral as ek tussen
mense is wat anders dink en glo?
Hoekom is ek bang om die Here se Naam te
noem wanneer dit nodig is?
Hoekom bly ek stil as ander sy Naam onnodig
en neerhalend noem?
Hoekom is ek ook bang om op te staan waar
ander dit ook nie doen vir die Here nie?

Is ons bang ander gaan vir ons lag, ons wegstoot?
Ons verander maklik ons storie en “los God in die Bybel”,
juis wanneer Hy in die wêreld aan die woord moet kom,
deur óns! En dit net om “aanvaar” te word.
Of gewild te bly. Of die werk te kry.
Mense sal vir jou respek kry as jy opstaan vir die regte goed,
al wys hulle dit nie. Mense sal dan weet wat jou integriteit is.
Hulle sal jou selfs van dan af vertrou.

Paulus skryf in 1 Tess. 2:5: “Ons sal nooit dinge sê om by mense
gewild te probeer wees nie. Julle weet dit al teen dié tyd.
Ons probeer ook nie op skelm maniere geld maak uit die
evangelie nie. God is ons getuie. Hy ken ons harte.”
Wanneer ons opstaan vir die Here se Naam en saak is daar
gewoonlik stof, en wanneer die stof gaan lê het, kom sê
mense dankie, en dat hulle nie die moed gehad het nie.

Wanneer kry ons dit reg? Wanneer dit nie oor ons gaan nie,
maar oor God en sy mense! Moenie mense ontneem van
God se goedheid en genade en versorging vir hulle nie.
Word die instrument waardeur God dit wil gee. Moenie sê
wat jy dink mense wil hoor nie. Sê wat jy weet God wil hê
hulle moet hoor. Moenie dinge doen om erkenning by
mense te kry nie. Doen wat jy weet God wil hê jy moet doen.
Moenie die evangelie, God se liefde, en God se omgee vir
mense, afwater of flouer maak nie. Staan op vir die Here!

Wees altyd eerlik. Deursigtig. Doen God se wil.
Kom uit die duister en leef in die lig. Wanneer ons net
langs die spoor wil loop, loop ons uiteindelik ver van die
spoor af. Leef so dat jy saam met Paulus kan sê:
God is my getuie! Hy ken my hart!

Ernest