Hoekom doen jy wat jy doen? Dink bietjie mooi daaroor.
Hoekom tel jy ‘n papiertjie op waar niemand jou sien nie?
Hoekom gee jy iets vir iemand waar jy nie erkenning kry nie?
Hoekom sal jy in jou besige program stóp!...en iemand help?
Hoekom sal jy nog ‘n keer vir iemand in die verkeer plek gee,
al is jy hoe haastig, al sê hy nie eers dankie nie?

Die belangrike is dat jyself en jou eie eer nie belangrik is nie.
Jy gee nie plek aan iemand in die verkeer om erkenning te
kry nie. Jy doen dit omdat die Here dit van jou vra.
Jy doen dit vir Hóm!
Dink weer mooi oor die motivering vir jou goeie dade.
Paulus sê in 1 Tess. 2:6: “Ook soek ons nie na die erkenning
van mense nie, nie julle s’n nie en ook nie ander mense s’n nie.”
Wanneer ons dinge doen om erkenning van mense te kry,
gaan ons gou spoed verloor. Mense gaan ons teleurstel.
Hulle gaan vergeet om dankie te sê. Hulle gaan selfs in
ondankbaarheid verwag ons moet dit weer doen!
Wat ons dink ‘n voorreg moet wees word gou ‘n reg.
En gou-gou kom daar misverstande omdat ons motivering
van die begin af eintlik op onsself gerig was.

Dankbaarheid moet die motivering wees hoekom ons
die regte dinge doen. Dankbaarheid teenoor die Here.
Dit laat ons die regte dinge doen wanneer niemand dit
eers sien nie. Dit laat ons die regte dinge doen omdat
ons nie eers by die Here erkenning probeer kry nie.
Ons moet so oorloop van dankbaarheid dat dit ons hele
lewe kleur! Dit word die stukrag vir al ons dade!
Dan word ons nie teleurgestel deur mense by wie ons
erkenning soek nie. Dan sal ons nie spoed verloor as
ons goed doen en mense dit nie eers raaksien nie.

Ek sal weet ek doen dit vir die Here.
Regtig opreg vir die Here!
Ook hierin moet ek nie myself probeer bluf nie.
Regtig opreg vir die Here! Uit dankbaarheid vir wat Hy
vir my gedoen het, en elke dag doen!
Want ek verdien dit net so min as enige iemand anders.
Saam met Paulus sê ons dan opreg, en ons weet dit:
Ons soek nie die erkenning van mense nie.
Ons doen dit vir die Here!
Kolossense 3:23: “Wat julle ookal doen, doen dit
van harte soos vir die Here en nie vir mense nie...”

Ernest