Voor Paulus se bekering was hy ‘n moeilike man gewees.
Ons weet hoe hy fanaties die Christene vervolg het.
Maar later in die Nuwe Testament leer ken ons hom heel
anders nadat die Here sy lewe omgekeer het op pad na
Damaskus. Hy het sag geword met ‘n sensitiewe hart vir
sy medemens. Hy het hom met die liefde van die Here
oor die mensdom ontferm.

So is hy self aan die woord in 1 Tess. 2:7: “Natuurlik kon
ek my gesag daar by julle misbruik het as ek regtig wou.
Ek is immers deur Christus self as sy apostel aangestel.
Maar ek was glad nie kwaai met julle nie. Allesbehalwe.
Ek het julle vertroetel en mooi versorg, net soos ‘n
liefdevolle mamma wat haar kindertjies borsvoed.”
Hoe voel ons oor die mense met wie ons elke dag in
aanraking kom? Het ons ‘n hart wat regtig omgee?
Is ons besorg oor mense se welstand? Gee ons regtig
om vir mense wat swaarkry?

Ons bekommer ons baie meer oor ons eie belange as
om ander mense te help. Ons sê ook baie keer dit is
die pad wat hulle kies en wat hulle maar moet loop.
Dit werk nie so in God se wêreld nie. Dit is juis dit wat
die evangelie so anders maak as wat die wêreld verwag.
Wanneer die Heilige Gees in my kom woon omdat ek
nou ‘n kind van God is, dan swaai Hy die proses om
sodat ek nou meer op ander ingestel is as op myself.
Hoe min ek ookal hiervan hou of wil weet, dit gebeur
deur die Gees wat nou beheer van my lewe oorneem.

Ons harte verander en ons raak ingestel op die mense
rondom ons. Paulus sê hieroor in vers 8:
“Ek gee ontsettend baie om vir julle almal. Daarom was
dit vir my ‘n groot voorreg om die goeie nuus wat direk
van God af kom , met julle elkeen te deel. Weet julle,
ek sou selfs my eie lewe vir julle opgeoffer het omdat
ek julle met my hele hart liefhet.”
Jou lewe opoffer?! Sal ons?

Hiermee word net die groot liefde beklemtoon wat God
van ons vra vir mense rondom ons. Omgee liefde.
Dit is om jou op mense rondom jou te rig, omdat God die
kern van jou lewe geword het, en nie meer jyself nie.
Die Heilige Gees sal ons help! Want dit is God se wil!
Uit onsself kan ons nie. Daarom het God aan ons sy Gees
gegee! Dit is dan Hy wat uit ons harte oorloop met liefde,
na ander toe! O...hoe moet ons nie hiervoor bid nie.
Om onder beheer van die Gees te leef. Regtig!

Ernest