Hoekom kan niks jou diepste dankbaarheid
as kind van die Here wegneem nie?
Die rede is dat jou diepste dankbaarheid gaan
oor die dinge wat niks of niemand van jou kan
wegneem nie! Wat is die dinge wat ons as gelowiges
nooit kan verloor nie? Dit is:
Ewige lewe! – Johannes 10:28.
Niemand kan ons uit God se hand ruk nie! – Joh. 10:29.
Vergifnis! – 1 Johannes 1:9.
God se teenwoordigheid! – Hebreërs 13:5.
Vrymoedige toegang tot God, deur gebed! – Heb. 4:15-16.
God se getrouheid aan ons! – 2 Timoteus 2:13.
Daar is nog baie ander waarhede, beloftes van God,
wat niemand van ons kan wegneem nie!
Dankbaarheid in ons lewe sal ook baie groter en makliker
wees as ons voortdurend uit hierdie waarhede lewe!

Ons sê gereeld dankie vir daaglikse dinge soos kos en klere.
Vriende en familie. Gesondheid. Alles kwaliteite in die lewe
wat wonderlik is om te hê, maar wat ons ook net so maklik
kan verloor!
Gaan lees Romeine 8:35-39. Dit is die taaiste goed van die
lewe wat ons steeds nie kan roof, of kan skei van die liefde
van God vir ons in Christus Jesus nie! God se liefde vir ons is
oneindig, onveranderlik, onoorwinlik!

Met die Sharpville onluste in 1976 is ‘n kerk aan die
brand gesteek.
Al wat gebrand het was die kanselkleed “God is liefde”,
en die platvorm voor die kansel.
Die evangelis het daar gaan kniel en gebid: “O Here,
ons dank U dat U liefde nie op lappe staan nie,
maar aan ‘n kruis gehang het. Hulle kan maar al die lappe
verbrand, dan sal ons nog weet: God is liefde!”
Die Christene wat op die brandstapels gesterf het,
het steeds in dankbaarheid uitgeroep: “God is liefde!”
Kom ons wees diep dankbaar vir dit wat niks van ons kan
wegneem nie!
Die liefde van God, vir elkeen van ons, in Christus Jesus!

Ernest