Ons dankbaarheid loop oor. Dit loop oor na ander mense!
Ons gee dan so om vir ander mense omdat ons dankbaar
is dat God vir ons omgee.

In ‘n hospitaalkamer het twee mans gelê vir ‘n lang tyd.
Hulle kon nie lees nie, en in daardie tyd was daar nog nie
radio of TV nie. Besoekers was ook baie beperk omdat
mense in die vroeë tyd baie bang was vir infeksies.
Die twee mans kon maar net met mekaar en soms met die
verpleegsters praat. Meneer Wilson kon soms regop sit en
deur die venster kyk. Dan het hy die mooiste toneel
daarbuite aan meneer Thompson beskryf. ‘n Mooi park.
Swane op water. Kinders wat hulle voer. Kinders wat op die
gras speel. Blomme. Bome. Verliefdes, oud en jonk wat
hand aan hand loop. Meneer Thompson het hom verlustig
in die beskrywings van meneer Wilson en alles in sy
verbeelding gesien. Hy het dikwels sy dankbaarheid
uitgespreek oor die goedheid van die Here.

Een nag het meneer Wilson skielik en onverwags gesterf.
Meneer Thompson het gepleit dat hulle sy bed voor die
venster moes skuif. Sukkelend het hy orent gekom en verras
en verbaas gesien die venster kyk uit op ‘n vaal ou muur.

Meneer Wilson wou meneer Thompson die mooi van die lewe
laat “sien” en hom dankbaar laat leef vir dit wat hy beleef.
Ons beskryf ook uit dankbaarheid met ons lewe God en sy
goeie werke in hierdie wêreld. Mense kan dit dikwels nie
raaksien nie. Ons moet in dankbaarheid so leef dat hulle dit
ook raakhoor en raaksien en beleef. Dit is wat Jesus op aarde
kom doen het. Hy het God aan mense beskryf,
en God aan mense uitgeleef.
Met ‘n lewe van dankbaarheid wys ons aan mense die lewe is
dikwels net te goed om nié waar te wees nie!

“En wat julle ookal sê of doen, sê en doen dit alles in die
Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”
– Kolossense 3:17.

Ernest