Oor baie dinge word gevra: “Wat is God se wil?”
Ons moet ons hele lewe en roeping laat beïnvloed
deur Johannes 6:39: “En dit is die wil van Hom wat
My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het,
nie een verlore sal gaan nie, maar hulle almal op die
laaste dag uit die dood sal laat opstaan.”
Let op hoe begin hierdie vers. Jesus sê pertinent:
“En dit is die wil van Hom wat my gestuur het...”
Johannes 6:38-40 is een van die heel belangrikste
tekste oor God se wil wat dikwels misgekyk word,
misgepraat word en misgepreek word. Hierdie teks
staan eintlik by wyse van spreke reg langs Joh. 3:16!
Ons moet dit in ons harte laat leef en groei.
Ons moet dit nooit vergeet nie. Jesus sê hier direk
wat God se wil is! Dit is aangrypende woorde!
Jesus stel dit duidelik dat Hy nie op aarde is om sy eie
wil te doen nie. Hy doen die Vader se wil! God se wil
gebeur deur Jesus! Waar Hy is, is God, en is God aan
die werk. Daar is God se wil besig om direk te gebeur.
Wat is dit wat Jesus tussen ons kom doen?
Jesus antwoord glashelder dat dit die Vader se wil is
dat nie een van die mense wat God aan Hom toevertrou
verlore sal gaan nie, maar dat Hy hulle elkeen op die
laaste dag sal opwek uit die dood.
Hoe wil ons dit nog duideliker hoor? Hoe skakel ons
wat in Jesus se voetspore loop as sy dissipels nou in by
dit wat Hy vir God moet doen? God het nie derduisende
“klein plannetjies” om ons behoeftes op aanvraag te
bevredig nie. God se wil is hierdie groot plan!
Christus is deur Hom gestuur om die wat verlore is te
soek en te vind. Verlore mense is die heel hoogste op
God se agenda! En op Jesus se agenda!
Hy kom self aarde toe om hierdie agenda in konkrete
dade te omskep.
Soos God Hom gestuur het,
stuur Hy ons! Dit is God se belangrikste wil vir ons lewe.
Om mense na die Here toe te lei, en hulle met ons lewe
na die Here toe te lééf!
Wanneer ons met ons hele lewe hierop fokus in álles wat
ons doen, en oral waar ons leef, teenoor alle mense,
dan leef ons God se wil!
Ernest