Hoe meet jy die waarde van dinge of mense?
‘n Versekeringsmaatskappy sal jou wel kan
help met die waarde van aardse besittings.
Maar is jou lewe se waarde regtig gelyk aan
die somtotaal van jou vaste bates?
Die belangrikste vraag wanneer ons aan die waarde
van dinge dink is seker: Wát moet ek eers verloor,
voordat ek alles verloor het?
Besittings kan altyd vervang word. Maar nie die
belangrikste mense in jou lewe nie. Jou lewensmaat,
kinders, familie, vriende. Dit is die hoogste aardse
vreugdes! Hulle waarde is onmeetbaar.
Maar die belangrikste van almal in jou lewe is Christus!
Hy gee die diepste sin aan elke verhouding in jou lewe.
En in Hom lê die diepste waarde van jou lewe.
Hy het ons opgesoek toe ons almal verdwaal was.
En die Here se blydskap om ons te vind is so groot,
sê Matteus 18:13: “En as hy hom kry, verseker Ek julle,
is hy blyer oor hom as oor die nege en negentig wat
nie weggeraak het nie.” Die Here het ons syne gemaak.
Vir tyd en ewigheid. In kalmte en storms.
Hoe ver moes Jesus, die Goeie Herder nie agter ons
aanloop om ons te kry nie?! Ons was totaal verlore.
Net die Here kon ons kry! Ons is nou God se kosbare
hemelse eiendom! Dit is ons waarde. Kinders van God!
Daarom moet ons net soveel waarde aan ander mense heg,
as wat God aan ons heg.
Soos die Vader vir Jesus gestuur het om verdwaaldes te vind,
so stuur Jesus nou vir ons! God se wil vir ons is dat verlore
mense hier op aarde gesoek word totdat hulle deur die
genade van die Here gevind word!
Dit illustreer Jesus aangrypend in sy gelykenis oor die verlore
skaap. Eintlik is dit die gelykenis oor die Goeie Herder!
Kom ons heg die waarde aan ons medemens wat die Here
aan hulle heg. Kom ons besef ook opnuut daarin ons
eie waarde voor God.
Ernest