Een van die dae is dit Kersfees. En ons hoor woorde
soos liggie-fees. Kers-fees. Kerslig-fees.
Fees van die Lig.
Oor die geboorte van Jesus sê Johannes 1:9:
“Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na
die wêreld toe.”
Lig, daardie partikels wat teen
‘n verbysterende 671 miljoen myl per uur voortsnel.
Lig doen asemrowende dinge met duisternis.
Lig transformeer duisternis. Lig skep veiligheid
omdat dit duisternis verdryf. Duisternis is dikwels
‘n broeiplek vir onheil en vrees. Sonder lig bestaan
daar nie enige sinvolle verbindings nie.
Donkerte isoleer mense. Lig bring mense bymekaar.
Daarom skryf Johannes reeds aan die begin van sy
Evangelie God is lig! Jesus is ook lig. Jesus is die
teenoorgestelde van duisternis en afgeslotenheid.
Om Christus te ken is om in die lig te leef.
Dit is om lewende verbindings te hê met God en
ander mense. Om in God te lewe is ‘n lewe in die lig.
In Hom is daar geen donkerte nie.
God se wil is dat sy Seun, die ware Lig, elke stukkie
aardse donkerte verdryf en kom verlig.
Op elke plek waar Hy is, oorwin die lig die duisternis.
Almal wat Jesus aanneem en voor Hom buig as Here,
deel is sy lewenslig. Hulle word nuut gemaak.
Hulle word kinders van die lewende God.
Jesus, die Lig, verander hulle vir altyd.
Kersfees is inderdaad die fees van die Lig!
Ernest