Ons het dikwels die idee dat God se wil meestal
met my eie doen en late te doen het.
Ons hoor dikwels die vraag:
“Wat is God se wil vir my lewe?”
Die probleem is nie om God se wil in jou persoonlike
lewe te soek nie. Verseker moet ons dit doen.

Die probleem is dat ek myself so sentraal in God se wil
plaas dat dit eintlik om myself gaan in plaas van Hom
en sy koninkryk.
Dan moet ek met die regte huweliksmaat trou.
Die regte beroep kies. Die regte aantal kinders hê.
Op die regte plek bly. God moet vir my in dit alles wys
wat sy wil is. Maar eintlik gaan dit oor my.
God se wil draai later vir my net om die krisis besluite
wat ek in mý lewe moet neem. Ek hou Hom ook baie
besig daarmee in my gebede. Hy moet duidelik sê hoe
en wat. By die vurk in die pad moet Hy sê links of regs.
Uiteindelik is God se wil net ter sprake wanneer dit
my eie lewe raak. Net dan.

Die Bybel praat egter nie so oor God se wil nie.
God se wil vir my lewe het nie in die eerste plek
met mý te doen nie, maar met Jesus,
en ‘n daaglikse verhouding met Jesus.
Jesus staan in die middelpunt van my lewe,
en God se wil draai nie in die eerste plek om mý
belange nie. Jesus staan sentraal in God se wil.
Dit gaan oor Hom. Altyd. Ook in my persoonlike lewe.

Wanneer ek in ‘n geloofs-verhouding met Jesus staan,
is ek in God se wil! Of ek nou regs of links draai by die
vurk in die pad, soos voor ‘n beroepskeuse,
is nie die enigste belangrike nie. Die vraag is of ek
Jesus gaan verteenwoordig op die pad wat ek gekies het.
Die Here gooi nie klinkklare briefies met antwoorde oor
alles vir ons uit die hemel nie. Die Here sê nie ek moet
die wit motor kies in plaas van die bloue nie.

Die Here wil in ‘n verhouding met my leef. Dit is God se wil.
My persoonlike keuses of omstandighede is nie outomatiese
aanduidings of ek binne of buite God se wil is nie.
Ons moet nie God se wil volledig afgradeer tot God se wil
vir onsself nie! Dit is juis andersom! Dit gaan daaroor of ek
by Jesus inval en in ‘n daaglikse verhouding met Hom leef.
Daar gebeur God se wil. Ek staan nie eerste in God se wil nie.
“Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.”
– Kolossense 1:15.

Ernest