Waarom vra ons wat God se wil vir ons is,
in die fynste detail?
Wanneer ons na mense luister wat worstel
met God se wil vir hul eie persoonlike lewe,
dan kom jy dikwels agter dat dit eintlik gaan
oor my eie welstand, gerief en geluk.
Maar wanneer jy naby aan die Here loop,
loop jy nie die gelyk pad wat jy begeer nie.
Dit is nie “plain sailing” nie. Jy is nie op plat
water nie. Daar is golwe, en storms ook.
Jy en almal in jou nabyheid sal goed weet as
jy saam met die Here loop. Die stofpad se stof
sal ook op jou wees. Sy pad kronkel gedurig
verby mense wat swaarkry, seer het, verlore is,
gevaar beleef...en jy loop saam met Hom, dáár!
Daar waar mense verstrik is in probleme.
Daar waar mense moedeloos is. Daar loop die
voetspore van Jesus. Waar armes nie kos het om
te eet nie, en waar eensames vergete geraak het.
Daar loop Hy. Dit is immers sy Vader se wil dat Hy,
van elkeen wat God aan Hom gegee het,
nie een verlore sal laat gaan nie.
Loop jy daar saam met Hom?
Dit is ‘n ander vraag na God se wil vir jou lewe as die
self-gesentreerde vrae wat ons vra oor ons eie lewe.
Ons moet nog nader aan Jesus loop!
Verder weg van onsself af! Ons moet ons eie veilige
godsdienstige hawens van selfbelang verlaat waar
ons so veilig skuil. Ons moet oopsee toe gaan,
saam met Jesus. Dit is God se wil vir jou lewe!
Ja, vir jou persoonlik.
Wat verstaan ons nie van Jesus se boodskap nie?
“Volg My!”
Ons kan nie kerklike napraters en deeltydse
bewonderaars van Jesus wees nie. Die stof van
die stofpaaie wat Hy op aarde kom loop het,
moet ook ons voete vuil maak en op ons kom lê.
“Jakkalse het gate en voëls het neste,
maar die Seun van die mens het nie eers ‘n rusplek
vir sy kop nie.” – Matteus 8:20.
Dit is nie ‘n lewe van gerief, en eie welstand,
en geluk vir mý nie, maar ‘n lewe waar ek myself
gee as lewende en heilige offer vir Hom! Rom. 12:1.
Dit is God se wil vir jou lewe!
Ernest