Jesus se woorde in Matteus 8:18-22 is nie
liggewig woorde nie. Dit is nie vir bewonderaars
van Jesus bedoel nie, maar vir dissipels!
Wat is bewonderaars? Dit is mense wat Jesus op
‘n afstand volg. Daar was baie van hulle tydens
Jesus se aardse optrede. Daar is vandag nog baie.
Hulle volg ter wille van eie voordeel. Hulle sal agter
Jesus aanloop solank daar vir hulle meer persoonlike
voordele as nadele is. Sodra die pad egter te steil raak,
en die eise te hoog, dan draai hulle om en gaan weg.
Kyk maar na die wetskenner wat Jesus met groot
bravade wou volg in Matteus 8. Net daar moes hy
hoor dat Jesus geen outomatiese byvoordele bied nie.
Hiervoor het die geleerde nie kans gesien nie.
Ook die man wat die begrafnisreëlings wou gaan tref
vir sy pa wat gesterf het: “Iemand anders, een van sy
dissipels, sê vir Hom: “Here, laat my toe om eers terug
te gaan en my pa te begrawe. Maar Jesus antwoord hom:
“Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.”
– Matteus 8:21-22.
Dit klink na harde woorde van Jesus. Maar Jesus
beklemtoon dat die tyd vir die dooies nou verby is,
en dat hy Jesus onverwyld moet volg!
Niks is belangriker as om Jesus te volg nie.
Dit is die boodskap. Om Jesus te volg,
in sy voetspore te stap, is al opsie wat daar binne God
se wil is vir voornemende navolgers.
Dit is óf dissipelskap, óf niks. Dit is óf voltyds, óf glad nie.
Jy kan nie as ‘n bewonderaar net kom en gaan,
soos dit jou pas nie. Jy speel nie, soos ‘n impakspeler,
net sekere dele van die wedstryd nie.
Jy is voltyds op die veld. Jy is nie in skofte by Jesus nie.
Dit is 24/7, elke dag.
Let op: God se wil vra alles van Jesus!
Dit vra ook alles van elke navolger van Jesus!
Ernest