Dit is die laaste maand van die jaar! Desember!
Orals is kersversierings te sien. Kersmusiek speel al!
En die gedagtes begin loop na die Kind in die krip.
Dit word romanties voorgestel met prentjies,
en geskenkies. Kersvaders sit op stoele vir foto’s
saam met kinders. Dit is alles goed en wel...
Die vraag is egter of ons hier vassteek, of verder
beweeg? Beweeg na Wie Jesus regtig is!
C. S. Lewis, die bekende teoloog en Christen denker,
vra in sy boek, The Problem of Pain, of die wêreld
regtig op soek is na ‘n Vader in die hemel?
Veel eerder is mense op soek na ‘n figuur wat hulle
‘n goeie tyd op aarde sal gee. Soos ‘n Kersvader figuur,
moet God net heeltyd goeie dinge soos geskenke uitdeel.
Intussen moet Hy al die skuld dra as dinge verkeerd loop,
met mense wat Hom in elk geval nie dien nie!
Hierdie skerp woorde van C. S. Lewis gee uitdrukking aan
massas mense op aarde se uiters naïewe idee van ‘n
universele godheid, as ‘n hemelse tipe kinderoppasser,
wat voortdurend net ons selfsugtige behoeftes en
begeertes moet vervul. Vir die res moet Hy liefs eenkant
staan.
Dit is nie die Bybelse God wat hier van gepraat word nie.
God is nie daar om te sorg dat ons lewe maanskyn en rose
is nie. C. S. Lewis sê dat pyn en lyding soms God se megafoon
is vir ‘n stokdowe wêreld.
Die koms van Jesus na die wêreld bewys die feit dat God in en
deur Christus aktief is, en direk aan die werk in ons wêreld!
Hy is besig met ‘n hemelse reddingsoperasie van sondaars!
Die krip was nodig vir die kruis!...
Ons kan nie Jesus so een keer per jaar met Kersfees besoek nie.
Ons kan nie dan die res van die jaar maar aangaan met
“ons eie” lewe nie. Allesbehalwe!
Jesus is die Here!
Koning van hemel en aarde. En Hy kom na die wêreld om
sy Vader se wil uit te voer!
Johannes 3:16: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy
enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo,
nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Ernest