Wanneer mense in krisisse beland vra hulle
indringende vrae. Een van die vrae is dan:
“Wie is in beheer? Wat is in beheer?”
Gelowiges én ongelowiges vra dan hierdie vrae.
Een van die standaard opmerkings is dat daar
‘n doel met die krisis is, en dat ons later sal verstaan.
Die meeste mense op aarde wil meesters van hul eie
lewe wees. Hulle wil in beheer staan van hulle lewe.
Maar in dieselfde asem wil hulle weet daar is een of ander
onpersoonlike krag, of in die geval van godsdienstiges,
‘n God, wat planne het met hulle swaarkry.
Die Nuwe Testament is glashelder daaroor dat God geen
hemelse marionet meester is nie. Hy trek nie toutjies en
dan spring ons willoos rond op sy bevel nie.
God is ‘n verhoudingsmatige God wat sy wil binne ‘n
verhouding van liefde en gehoorsaamheid met ons elkeen
laat ontvou. God forseer nie sy wil willoos op ons af nie.
Hy nooi ons uit om in sy wil te leef. Dit is merkwaardig.
Hy maak sy wil bekend en skenk sy Gees aan ons om
ons in die waarheid te lei.
God is nie daarop uit om krisisse te veroorsaak
ten einde sekere lesse aan ons te leer nie.
Sy lesse is duidelik op skrif in die Skrif!
Hy vra geloof in Jesus van ons almal. Dit is sy les!
Dit is nie geklassifiseerde inligting nie.
Hy hoef ons nie te laat swaarkry of ly om dit te ontdek nie.
Hy hoef nie ons aandag te trek deur krisisse nie.
Dit sou in elk geval beteken dat baie van ons deurgaans
in krisis sal wees.
As ons die Woord nie glo nie,
sal geen krisis in elk geval help nie.
Paulus sê hieroor in Galasiërs 5:16: “Wat ek bedoel, is dít:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheer word,
dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle
sondige natuur nie.
Ernest