Ons hoor dikwels die uitdrukking:
“Ons moet skoolgeld betaal deur ons foute.”
Dat ons deur probeer, en nogmaals probeer,
sekere dinge moet leer. Ook oor God se wil...
Mense sal dan ook sê dat hulle nie die heeltyd
daar is om jou te help nie, en dat jy maar ook
uit jou foute moet leer wat God se wil is.

Hierdie idee is sekerlik waar wat mense betref,
maar nie wanneer dit oor God gaan nie.
God se doel is nie dat ons skoolgeld moet betaal
uit ons foute nie. Of so sy wil moet leer ken nie.
Inteendeel. Dit is net ons eie dwaasheid wat ons
foute veroorsaak, en verseker nie God nie.
Hy is nie daarop ingestel om sekere aanskoulike
lesse aan ons te leer uit ons foute nie.

God het lankal reeds die sogenaamde skoolgeld
betaal by die kruis. Die kruis is ons les.
Dit is ons lewensles wat lewe gee.
Daar is ons skuld ten volle vereffen.
Daar het God die lesse aan die mens afgehandel.
Wat ons nie by die kruis van Jesus leer oor ons
lewe nie, sal ons nie verder op ‘n ander plek leer nie.
Om dus heeltyd geheime of minder geheime
boodskappe van God in ons omstandighede te
probeer raak lees, is gevaarlik.

God se vernaamste lesse is afgehandel by die kruis.
Daar is die waarheid van die lewe aan ons gegee.
Daar is die oorwinning beseël.
Daar is God se wil in die eerste plek te vind.
Nie in my eie lewe en omstandighede nie.
As ek dus iets oor God se wil moet leer,
moet ek kruis toe gaan!
Dan moet my eie swaar en seer nie harder praat
as dit wat God daar by die kruis gedoen het nie.
Inteendeel! Dan moet die kruis se lig,
en die opstanding van Jesus se lig,
die skaduwee uit my lewe verdryf.
Dan moet God se genade van die kruis af oorspoel na
my hele lewe, en my eie lewe moet oorloop daarvan.

1 Johannes 4:10: “Werklike liefde is dít:
nie die liefde wat ons vir God het nie,
maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun
te stuur as versoening vir ons sonde.”

Ernest