In Jesus Christus het ons nuwe status.
Ons is herskep om te wees wie en wat God
bedoel ons moet wees. Ons moet nou dink
en doen soos Jesus, al hoe meer en meer gelyk
aan die beeld van Jesus. Ons moet vanuit ons
nuwe status leef. Ons is herskep om proaktief
vanuit die Here se goedheid te leef en te gaan
doen wat Hy wil hê ons moet doen,
ongeag ons omstandighede.
Joan Chittister vertel in ‘n boek,
What Does It Mean To Be Human?, van ‘n vrou
wat langs die Gangesrivier in Indië ‘n halfdooie
skerpioen op ‘n takkie sien dryf het. Sy wou die
skerpioen red, maar die steek haar toe in die hand.
Sy probeer weer, en weer steek die skerpioen haar.
En weer. Iemand sê toe vir haar sy is dom om die
skerpioen te probeer red. Let op haar antwoord:
“Net omdat dit die eie aard is van die skerpioen om
te steek, moet of hoef ek nie mý eie aard te ontken
om dit te red nie!” Die grein van haar menswees is
om die diertjie te red. Dit is teen haar grein in om
as gevolg van die skerpioen se optrede die dier te los
om te vrek.
Te veel navolgers van Jesus leef ook téén die grein in,
van ons nuwe natuur in Hom. Ons reageer te veel
reaktief op dit wat die lewe na ons kant toe aangee.
As die lewe ons “steek”, by wyse van spreke,
wil ons dit los. In plaas daarvan dat ons dan as lig, sout
en suurdeeg optree, onttrek ons, of reageer soos die
skerpioen en “steek” terug.
Dit help nie ons leef reaktief nie. As ons net gelukkig is
as niks van die lewe ons steek nie, en ongelukkig is as
die wêreld ons seermaak, dan het ons slagoffers van ons
omstandighede geword! Dan dikteer ons omgewing en
ander mense ons lewens. In plaas daarvan dat God dit
moet beheer deur die Gees!
Natuurlik het omstandighede en mense ‘n invloed op ons.
Maar as ons gevangenis raak van ons omstandighede en
mense rondom ons, dan het ons probleme in ons geloofslewe.
Dan gaan ons nié uit ons eie aard as Christene leef nie.
Ons is herskep om proaktief vanuit die Here se goedheid te leef.
Maak nie saak wat die omstandighede is nie, met wie ons te
doen het nie, of wat die reaksie op ons goedheid is nie.
God se wil is dat ons onder alle omstandighede met hoop
en vreugde in Hom leef! Al doen niemand anders wat ons
in die Here se Naam doen nie, en al skop en slaan almal mekaar,
durf ons nie deel word van hierdie reaktiewe optrede nie.
Die Here moet ons lewe bepaal.
“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag
bepaal” – Galasiërs 5:25 – en ook 6:9: “Laat ons dan nie
moeg word om goed te doen nie...”
Ernest