Wanneer ‘n matriek vraestel voor die tyd
uitlek is dit groot nuus. Vraestelle moet
geheim bly totdat dit met die eksamen
oopgemaak word. Die goeie nuus is egter
dat God nie so werk met die groot vraag
rondom lewe nie! God maak alles bekend
rondom die grootste vraag!
Wat is die groot vraag? Die vraag wat alle
mense gaan vra op die laaste dag as ons
voor God se troon staan. God het dit doelbewus
bekendgemaak! Hy gee dit deur aan Johannes in
Openbaring 6:17:
“Wie sal staande bly op die dag van die Here?” Net dit!
Die goeie nuus is dat God meer as net die vraag gee.
Hy gee ook die antwoord daarop! Hy wil hê dat almal
die antwoord sal ken en voorbereid sal wees!
Die antwoord is oop en bloot in Openbaring 7.
Daar lees ons van die reuse skare wat op die dag van
die Here staande sal bly voor God! Wonderlik!
Biljoene mense deur die geskiedenis van die skepping
sal slaag! Wie is hulle en wat het hulle gedoen?
Die antwoord lê in hierdie waarheid in hulle harte:
“Ons redding kom van Hom wat op die troon sit
en van die Lam.” Met ander woorde:
Dit is die mense wat die drie-enige God aanbid en wat
Hom as die Here volg. Wat vir Hom lewe! Openbaring 7:
Hulle het hulle klere wit gewas in die bloedrooi bloed
van die Lam! Daar het jy die grootste vraag en die
antwoord daarop! Dit is God se wil.
Moenie dat enige iets in hierdie lewe jou oog daarvan
afskuif nie. Moenie dat materiële dinge dit doen nie.
Ook nie mense nie. Ook nie swaarkry nie. Moenie dat
enige iets jou oog van hierdie bestemming afskuif nie!
Veral swaarkry en besittings, kry dit met te veel mense
vandag reg.
Moenie die volgende slagoffer wees nie.
Ernest