Wanneer ons saam dink aan die koms van Jesus
na die wêreld, Kersfees soos ons dit vier, dan kan
ons nie anders daaroor dink nie, as dat Jesus Homself
prysgegee het ter wille van ons redding!
Filippense 2:6-8 sê dat Jesus Homself verneder het,
Hy wat in die gestalte van God was, deur sy bestaan
op Godgelyke wyse prys te gee, en die gestalte van
‘n slaaf aan te neem, en aan mense gelyk te word.
Nog meer: Toe Hy as mens verskyn het, het Hy homself
nog verder verneder deur aan die kruis te sterf!
Net voor dit sê vers 5: “Dieselfde gesindheid moet in
julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.”
Sterf aan jouself, sodat jy kan begin lééf voor God!

Richard Rohr skryf ‘n boek met die titel “Adam’s Return:
The Five Promises of Male Initiation.” Hierin sê hy dat
ons deur ‘n proses beweeg waarin vyf groot dinge gebeur
om te sterf aan onsself en voluit vir God te leef. Hy noem
dit ook ‘n seisoen van afskeid van die ou mens.
Die vyf lewenswyshede uit die Woord van God, wat ons
moet bemeester om vry te raak van ons eie lewenslange
verslawing aan onsself is:

Eerstens; “Life is hard.” Ons moet leer om saam met die
Here ons pyn en verlies in die oë te kyk. Anders sal ons
vasval in bitterheid, of die plesier van die wêreld jaag,
of deurgaans die blaam verskuif na ander.
Wanneer ons besef Jesus se juk is sag en sy las is lig,
skakel ‘n hemelse lig in ons lewe aan.
Tweedens; “You are not important.” Ons waarde in die
oë van die samelewing is minimaal. Maar wanneer ons
in Jesus se voetspore volg, wéét ons dat ons name in die
hemel opgeskryf is!
Derdens; “Your life is not about yourself.” Op die Here
se pad, saam met Hom, weet ons dat dit nie meer óns is
wat leef nie, maar Christus in ons! Hy alleen is ons hoop!
Daarom kry ons dit reg om buite onsself te leef, vir Hom!
Vierdens; “You are not in control.” Al probeer jy hoe hard,
jy kan nie volle beheer oor jou lewe neem nie. Die lewe is
onvoorspelbaar en in daardie opsig buite beheer. Maar ons
weet die Hemelse Vader versorg die blomme en die gras,
en bo alles ons!
Vyfdens; “You are going to die.” Die dood is doodseker.
Maar die wete en die hoop van Jesus se volgelinge is dat
Christus die sleutels van die dood en doderyk styf in sy hand
vashou, en dat niks of niemand jou uit sy hand kan ruk nie.

Besef dit, en leef uit hierdie vyf lewenswyshede,
om te sterf aan jouself, sodat jy kan lééf voor God!

Ernest