Onthou die vyf lewens waarhede of lewens wyshede:
Die lewe is hard.
Ek is nie belangrik nie.
My lewe gaan nie oor myself nie.
Ek is nie ten volle in beheer nie.
Ek gaan sterf.
Ons het gister hieroor nagedink...

Die kern van wat Richard Rohr in sy boek sê oor hierdie
lewens wyshede uit die Woord van God, is dat ek vrede
moet maak met hierdie een en enigste lewe wat ek van
die Here ontvang het, en dat ek dit voluit moet lewe,
as ‘n geskenk uit sy hand! Die belangrikste vraag is nie
of ek gelukkig is nie, maar of ek vry is! In Hom!
Dit is om regtig aan niks verslaaf te wees nie, en veral
nie aan myself nie! Dit is om net myself voor God en
mense te wees. As lewende en heilige offer aan Hóm.
Geen wonder nie dat so min mense vry is.
So baie mense bly lewenslange gevangenes van hul eie
behoeftes en begeertes. Gevangenes van hulleself!

God se wil kan net ten volle in ons lewe realiseer as ons
ons diepste self leer ken. Om in die kerk te praat van ‘n
lewe van oorwinning, of algehele oorgawe aan die Here,
help nie veel as ons nie die kern van die probleem
aanspreek nie. En dit is dat ons ons diepste vrese in die
oog moet kyk, saam met die Here! Ons wil nie swaarkry,
of moeilikheid hê nie. Tog weet ons die lewe is nie maanskyn
en rose nie. Daar is nie maklike antwoorde op alles nie.
Daar is nie net swart en wit onderskeidings nie.
Daar bly onsekerhede, en pyne.

Die belangrike is:
Eers wanneer ons God deurlopend midde-in ons harde,
onvoorspelbare en onveilige lewe ontdek, vind ons vrede
en is ons vry. Let op: Deurlopend! Dan vind die groei in ons
lewe plaas wat ons sorgvry voor God laat lewe, ten spyte van.
Filippense 4:6: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak
in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met
danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle
verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die
wag hou in Christus Jesus.”

Ernest