Die volgende vyf dae kyk ons kortliks na die
vyf lewenswaarhede om aan onsself te sterf,
sodat ons voor God kan lééf.

Die eerste is: Die lewe is hard. “Life is hard.”

Ons maak graag opmerkings soos “Afrika is nie
vir sissies nie”. Maar ons is ook die eerste om te kla
as swaar of die onverwagte ons tref. Ons beleef onsself
as teikens van die noodlot, of die straf van die Here, vir
een of ander rede. Die lewe is egter onregverdig in
hierdie wêreld. Net God is volkome regverdig.
Onreg word nie orals gestop nie. Ons sonde smeer af
op mekaar. Ons praat selfs van Murfy’s Law wat sê:
“Nothing is so bad that it can’t get worse.” Feit is,
dinge raak soms erger en erger! Geloof is nie soos ‘n
dobbelspel waar ons soms wen en soms verloor nie.

Goedkoop suikerklontjie SMS’e en Watsap’s wat
kitsoplossings voorstel, werk eenvoudig nie.
Feit: Die lewe is hard. Die ware profete van Israel se
grootste uitdaging was juis die vals profete in hulle
midde wat net goeie nuus aankondig, en juis nie wat
God sê nie! Jeremia het in Jer. 23 skerp oordeelswoorde
gehad oor al die self aangestelde spreekbuise van God
wat net ‘n voorspoed teologie verkondig.

Geloof is geen kortpad na geluk toe nie. Gebed is
ook nie ‘n gewaarborgde gelukbringer nie.
Wanneer ons hierdie waarheid in die oë kyk, juis dan,
en eers dan, staan ons die kans om God raak te loop
midde-in die storms!
Daarvoor het Jesus na die wêreld toe gekom. Kersfees.
Vir ons swaar. Hy is die enigste hoop in ons harde lewe.
Die profeet het al in Jesaja 43 gesê: “As jy deur water moet
gaan, is Ek by jou...as jy deur vuur moet gaan...want Ek is die
Here jou God...Moenie bang wees nie, Ek is by jou.”
Loop God raak midde-in die storms!

Ernest