Ek is nie belangrik nie – “I’m not important”.
Op die oog af klink dit verkeerd. Ons weet tog van
Jesaja 43:4 wat alreeds sê dat die Here se kinders vir
Hom kosbaar is, dat Hy sy kinders hoog ag en hulle liefhet.
Hierdie is die tweede lewenswysheid, om te sterf aan onsself,
sodat ons voor God kan lééf, naamlik:
Ek is nie belangrik nie.

Die probleem is dat my wêreld om myself draai.
Ek is die middelpunt. My man, my vrou, my kind, my werk,
my huis, my besittings, my sukses, en helaas, mý God,
in my diens. My gebede is lang behoefte-lyste oor myself
en alles en almal wat met my te doen het. Ek sê vroom ek is
nie belangrik nie, maar ek bedoel dit nie en leef dit nie.
Hierdie waarheid, ek is nie belangrik nie,
moet diep in my hart gaan lê.

Ja, ek het groot waarde voor God. Ek is sy kind.
Maar op my eie is ek niks. Ek is stof. ‘n Klein mensie.
Verganklik. Ek sal eendag nie meer hier wees nie.
Verseker het die Here my lief. Maar sy liefde sê boekdele
meer oor Homself as oor my. God het my lief ten spyte van
wie ek was, is en sal wees. Dit is omdat Hy genadig is,
dat Hy my optel en my met eer kroon.
Daarom, hoe kleiner ek word in myself, hoe groter word God
in my geloofslewe. Om jou hele lewe vir die Here te gee
beteken dat jou groot ego tot niet gaan. Dat jy nederig voor
God staan en jou diep verootmoedig oor wie jy is voor Hom:
“Laat hy hom diep verootmoedig – miskien is daar hoop”,
sê Klaagliedere 3:29 oor ons arrogansie en grootheidswaan.

Die mees veragtelike sonde in die Bybel is hoogmoed en
selfverheffing. Dit is die oersonde. Vra maar vir Adam en Eva.
Alle ander sonde het hieruit voortgespruit.
As ons diep neerbuig voor God, en niks meer van Hom verwag
Nie, as dat Hy ons klein sal hou, is daar ‘n nuwe pad van groei
in Hom wat voor ons oopgaan.

Ernest